Afrikaanse kunstenaars bring hulde aan legende

Cora-Marie

Cora-Marie. Argieffoto.

Op 8 Julie 1994 het die Afrikaanse sangeres Cora-Marie haar stryd teen kanker verloor toe sy net 41 jaar oud was.

Eerskomende Saterdag gaan verskeie Afrikaanse kunstenaars hulde aan hierdie legendariese kunstenaar bring tydens ʼn konsert wat by die Centurion-teater aangebied word. Onder die kunstenaars wat gaan optree en hul grootste treffers gaan sing, is Lance James, Min Shaw, Vicki du Preez en Tommy Dell.

Min Shaw het eintlik reeds “afgetree”, maar sy gaan weer haar grootste treffers, onder meer “Ek is baie lief vir jou”, sing. Sy en Lance James was jare lank een van ons land se gewildste sangpare, en hulle sal hul ou treffers, onder meer “Bloedrooi die rose” en “Bymekaar”, laat herleef. Vicki du Preez het lanklaas ʼn nuwe album vrygestel, maar haar Top 20-treffer, “Tot siens auf wiedersehen”, sal weer gehoor kan word. Nog ʼn groot treffer van weleer wat by die program ingesluit gaan word, is Tommy Dell se “Teddy bear”. Daar sal egter nie net kunstenaars van weleer optree nie; die Mynhardt-broers gaan hul nuwe CD, Twee in een, vrystel.

In 1984 het Cora-Marie die Kupido-komposisie “Hartenbos” vir haar album Ek’s ʼn country-meisie opgeneem, en hulle het gereeld die vakansiegangers by hierdie gewilde ATKV-oord in die Suid-Kaap vermaak. Daar sal ʼn gipsafbeelding met die woorde van dié bekende treffer as aandenking aan haar familie oorhandig word en lede van die ATKV Centurion-musiekforum sal dit vir die gehoor sing.  Daarby word ʼn nuwe liedjie, “Cora-Marie”, wat deur die lede van die forum geskryf is, ter nagedagtenis aan haar opgedra.

Daar gaan ʼn DVD-opname van hierdie geleentheid gemaak word, en kaartjies is by Computicket te koop.

https://youtu.be/JLXxU-pwrHg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

emma ·

Hoe goed onthou ek daardie dag toe sy oorlede is! Ek was in hospitaal met miskraam toe die hartseer nuus van haar afsterwe uitgesaai is.RIP Cora

Corrie Steyn ·

Cora-Marie was een van ons beste country sangers wat daar was, ek het al haar musiek gekoop, Dit is nou een persoon wat nooit moes gegaan het nie,sy was n wonderlike mens gewees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.