Afrikaanse kunstenaars skitter binnekort by nuwe kunstefees

Corlea Botha (Foto: Verskaf)

Van die land se bekendste Afrikaanse kunstenaars is eersdaags by die Virseker Geesfees te sien waar hulle ten bate van Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema gaan optree.

Die Virseker Geesfees is ʼn drie dae lange buitelugkunstefees wat van 18 tot 20 Maart vanjaar by die Lekwena Privaat Wildreservaat, ongeveer 10 km buite Potchefstroom, aangebied gaan word.

“Ons was lank in ons huise vasgekeer waartydens alle kultuuraktiwiteite gekanselleer is. Afrikaners is egter plesierig en ons het besef dit is nou hoog tyd dat ons weer uit ons huise kom, gesellig verkeer en lekker saam met ander mense kuier,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Volgens Roux is die besluit om die fees te hou tweeledig – om Helpende Hand in staat te stel om met #StopHonger te sorg dat 8 000 hulpbehoewende Afrikaanse kleuters daagliks ʼn bord kos kry, en om die kultuurhonger aan te pak wat die gevolg van die Covid-19-pandemie is.

Kunstenaars soos Adam Tas, Ricus Nel, Willem van der Ryst, Ichnus, Jay en Lianie May, Irene-Louise, Corlea, Jannie Moolman en Ruhan du Toit gaan oor dié drie dae vir vermaak sorg. Van der Ryst se musiekvideo Gee ʼn bietjie is verlede jaar spesiaal aan #StopHonger opgedra en het die tema van die kunstefees geïnspireer.

Daar gaan ook verskeie stalletjies, waaronder lekker kosstalletjies, ʼn Koöperasie-kuiertuin, en aktiwiteite vir oud en jonk wees.

“Dit is ʼn fees vir die hele gesin en gaan nie net sorg vir voedsel vir die siel nie, maar ook dat minstens 8 000 honger magies gevul sal word,” sê Roux.

Vrydag en Saterdag se vertonings sal regstreeks op verskeie aanlyn platforms uitgesaai word sodat kykers wêreldwyd die fees saam kan geniet.

Besoek www.geesfeespotch.co.za om kaartjies vir die fees te bespreek. Uitstallers kan ook stalletjies by dié skakel bespreek. Mense wat die #StopHonger-voedingskema wil ondersteun, kan die woord STOP sms na 45763 (elke sms kos R2).

  • Helpende Hand bedank al dié borge: Virseker, Pretoria FM, Lekwena Privaat Wildreservaat, Kooperasie Kroeg en Kos, ALS Group, Castle Lite, Buffelsfontein Brandewyn, Belgravia, WASP, Solidariteit, AfriForum en JVD Digital Marketing Design & Advertising.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.