Afrikaanse kunstenaars toer SA plat ten bate van droogtehulp

Ernstige droogtetoestande is sedert 2015 ʼn reuseprobleem in Suid-Afrika, veral in die Noord-Kaap. In sommige gebiede is alle reserwes reeds uitgeput en boere en die gemeenskap dus raadop.

Daarom beoog AfriForum om dié boere en hul gesinne te help deur 18 vertonings landwyd aan te bied in samewerking met Adam Tas, Jakkie Louw, Ghapi en Andries Vermeulen.

Elke sent wat ingesamel word, is ten bate van AfriForum se droogtefonds. “AfriForum is reeds sedert 2016 betrokke by droogtehulp en ons het agtergekom om een of twee keer per jaar geld in te samel, is nie genoeg nie. Ons wil op ʼn meer volhoubare wyse bydra tot die droogtefonds,” sê Henk Maree, hoof van jeug, sport en kultuur by AfriForum.

“Daarom het ons besluit om vanjaar 18 optredes te hou sodat ons genoeg geld kan genereer om sodoende regdeur die loop van die jaar ʼn groter verskil te kan maak aan die droogte en spesifiek die droogte in die Noord-Kaap.”

Andries Vermeulen, storieverteller en bekende aanbieder van OppiStoep, sê hy het deel geraak van die Droogtetoer omdat hy glo mense besef nie werklik wat die uitwerking van die droogte op die land is nie.

“Dit is ons verantwoordelikheid om mense in nood te ondersteun wanneer daar hulp nodig is. Ons is primêr die hande van God hier op aarde. Dit is my bydrae, nie net om mense finansieel te ondersteun nie, maar ook om weer die geestelike by hulle aan te wakker.

“Daar is ʼn randgroep wat besef wat die invloed van die droogte is, en hoewel ons niks aan die reën kan doen nie en net oor ʼn baie lang tydperk iets aan die klimaat kan verander, kan ons elke oomblik van elke dag iets doen om mense daar buite te versterk.”

Hy vertel die produksie beloof om ʼn aand vol gesels, kuier en tydlose musiek te wees. “Die vier van ons gaan lekker stories vertel en musiek maak; ons gaan kom inploeg in mense se harte en denke deur musiek.”

Jakkie Louw, sanger en liedjieskrywer, voeg by dat dit belangrik is om terug te ploeg in die boeregemeenskap van Suid-Afrika wat soveel vir die landsburgers doen.

“Ons boere is die rede dat ek en my gesin elke aand om ʼn tafel kan hande vat en dankie sê vir die kos waarmee ons ons liggame voed. Dit is ook belangrik dat ons kinders sien dat ons as volwassenes die boere ondersteun en betrokke raak by welwillendheid,” sê Louw.

“Ek bring my vioolspeler, Johan Scheppel, saam. Ons gaan ʼn bietjie ACDC speel terwyl Ghapi tromme slaan – so, ons gaan lekker rock n roll. ‘Drie Pikkewyne’ is vanjaar al 14 jaar oud en steeds net so ʼn groot treffer; ek gaan dit beslis ook moet doen!”

Die eerste Droogtetoer-vertoning begin Woensdag om 18:30 by Weiveld in Pretoria. Kaartjies kos tussen R200 en R250 en is beskikbaar deur Ticketpro of by enige Spar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria M S ·

Andries, Adam (Francois), Jakkie en Ghapi, julle harte sit op die regte plek, groot dankie vir julle onbaatsugtige gebaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.