Afrikaanse kunstenaars trek laer met aanlyn konserte

Met die derde vlaag van die koronavirus wat onlangs weer die mat onder Suid-Afrikaanse kunstenaars se voete gepluk het, het Coleske Artists Management en Vocal Events, hande gevat om twee magiese aanlyn konserte ten bate van dié kunstenaars van stapel te stuur.

Die Ons Sal Self-konserte het ten doele om ʼn rits Afrikaanse kunstenaars, wat van alle inkomstebronne gestroop is met die inperkingsmaatreëls van die derde koronavirusvlaag, geldelik te ondersteun.

Kunstenaars soos Bok van Blerk, Appel, Elvis Blue, Demi Lee Moore, Riaan Benadé en Refentse sal gesig wys op die konserte, wat gratis aanlyn aangebied sal word.

“Daar is ongetwyfeld baie bedrywe wat hard getref is deur die pandemie, maar toe die derde vlaag van Covid-19 die land tref en inperkingsmaatreëls weer verskerp is, was dit ook die spyker in die spreekwoordelike doodskis van baie kunstenaars se inkomste,” sê Duane Brown, hoof van Coleske Artists Management se kunstenaarsbestuursafdeling.

“Dit is ons verantwoordelikheid om ons kunstenaars in hierdie moeilike tyd by te staan om ’n inkomste te kan genereer. Hulle het almal gesinne om na te kyk.”

Vir die eerste keer ooit sal meer as 20 kunstenaars bymekaar kom vir die Ons Sal Self-konserte wat op Vrydag 6 Augustus en Vrydag 13 Augustus sal plaasvind.

Dié produksies sal regstreeks op YouTube en Facebook uitgesaai word en Afrikaanse musiekliefhebbers sal dit gratis in die gemak van hul eie huis kan geniet.

Die platform wat hiervoor gebruik gaan word, is die Woes-platform, wat oor die laaste paar maande onder leiding van Jaco van Dyk en Hamilton Wessels verskeie suksesvolle konserte en fondsinsamelings aangebied het.

“Ons is baie beïndruk met dit wat Woes vermag en dit maak net sin om hierdie projek saam met hulle aan te pak,” sê Arnold Coleske, direkteur van Coleske Artists Management.

Met dié projek sal al die winste dus gelyk opgedeel word aan die kunstenaars en sodoende ondersteuning bied in moeilike tye.

Groot maatskappye het hierdie kameraadskap raakgesien en onmiddellik besluit om betrokke te raak. Virseker, ʼn groot ondersteuner van die bevordering van Afrikaans, het as die hoofborg by die projek aangesluit.

“’n Mens kan net só lank probeer voorbly en beplan, en van die manne het groot families met kinders waarvoor daar kos op die tafel gesit moet word. Daarom is dit vir my ’n voorreg om saam met ’n klomp van my kollegas hierdie konsert aan te pak,” sê Appel, die gewilde sanger en liedjieskrywer.

Die kunstenaars wat tydens die konsert op Vrydag 6 Augustus te sien sal wees, is:

  • Bok van Blerk
  • Appel
  • Elvis Blue
  • Dewald Wasserfall
  • Tarryn Lamb
  • Corlea
  • Touch Of Class
  • Charlize Berg
  • Monique Steyn
  • Wilha Carstens
  • Gerhard Steyn

Die kunstenaars wat tydens die konsert op Vrydag 13 Augustus te sien sal wees, is:

  • Ricus Nel
  • Demi Lee Moore
  • Riaan Benadé
  • Ruhan du Toit
  • Chris Else
  • Danny Smoke
  • Refentse
  • Tasha
  • Jay en Lianie
  • Martin Bester
  • Ivan Roux
  • Liezel Pieters

Die seremoniemeester vir albei konserte is Anlia Star.

Die konserte word gratis aangebied, maar ondersteuners het die geleentheid om die kunstenaars by te staan en betrokke te raak op verskeie maniere.

Lootjies word op die Tixsa-webblad verkoop vir groot pryse wat gedurende die konsert gewen kan word. ’n Toyota Rav4 van Gys Pitzer Motors is ook een van die groot pryse.

Regstreekse veilings sal ook gedurende die konsert plaasvind waar kykers vir onder meer op ʼn jaar se wynvoorraad kan bie.

ʼn Oormaaksessie saam met Corlea, wat deesdae ook as grimeer- en haarkunstenaar werk, verskeie wegbreeknaweke na die Bosveld en Karoolammers is ook op die spel.

Kleiner sakeondernemings kan ook op ’n groot manier betrokke raak. Daar is ʼn beperkte aantal, uiters bekostigbare advertensiepakkette. Dié advertensies word gedurende die konsert gespeel.

Solidariteit het in Oktober verlede jaar die sogenaamde Werkherstelprogram bekendgestel, wat fokus op die drie steunpilare waarop Afrikaners se voortbestaan rus – werk, welstand en opleiding.

ʼn Groep Afrikaanse kunstenaars, onder wie Charlize Berg, Chris Else, Dewald Wasserfall en Gerhard Steyn, het kragte saamgesnoer om ʼn snit getiteld “Ons sal self” op te neem vir dié bekendstelling.

“Die Ons Sal Self-konserte is ʼn pragtige voorbeeld van ‘ons sal self’ in praktyk,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Kunstenaars wat verantwoordelikheid vir mekaar neem en sê kom ons kyk hoe ons dié gemeenskap kan help.”

Die konserte word ondersteun deur Solidariteit Helpende Hand en Gys Pitzer Motoring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sobymykoolkop ·

As ek mag vra? Hoekom is Steve nie deel hiervan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.