Afrikaanse liedjie in Frans vertaal vir liefdadigheid

Marc Devigne. (Foto: Facebook)

Marc Devigne, ʼn Kanadese sanger, liedjieskrywer en akteur, het pas ʼn Franse weergawe van Christa Steyn se liedjie “Ek wil vir jou” uitgereik.

Dié liedjie, “Je serai pour toi”, is in Devigne se eie musiekstyl verwerk.

Devigne, wat tans in Toronto woon, was ʼn finalis in die Canadian Idol– en The Voice Canada-kompetisie en tree reg oor die wêreld op – van Mexico-stad tot Parys, New York en Tel Aviv.

ʼn Vriend het hom aan Afrikaanse musiek blootgestel en hom vertel van die benarde situasie in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf sedert die aanvang van die pandemie.

Devigne was diep geraak en het dadelik aan maniere gedink om ʼn bydrae te lewer aan dié sukkelende bedryf.

“Dieselfde situasie bestaan egter tans wêreldwyd en ek het besef dit is tyd dat mense wêreldwyd moet saamstaan en vir mekaar hoop begin bring,” sê Devigne.

Hy het na verskeie Afrikaanse liedjies geluister, maar “Ek wil vir jou” het vir hom die perfekte tema, melodie en boodskap gehad.

Christa Steyn het dié liedjie in 1982 geskryf en dit is al meer as tien keer deur ander Suid-Afrikaanse kunstenaars opgeneem.

Marc Devigne. (Foto: Facebook)

Devigne se entoesiasme oor die liedjie het gegroei en hy het besluit om musikante van verskillende lande te vra om die opname te help vervaardig. Hy het selfs Russiese dansers te vra om ʼn dans op die liedjie uit te werk om sodoende nie net musiek in die opname te gebruik nie.

Sean Butler, bekende Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger, het die verwerking gedoen. Die Vivere-strykkwartet uit Oekraïne het al die strykerspartye regstreeks opgeneem.

Om die boodskap nog sterker te maak het Devigne vriende en kunstenaars in 20 verskillende lande gevra om die boodskap “ek wil daar wees vir jou” in hulle eie taal op te neem.

“Alles het net skielik bymekaar gekom en almal wat betrokke was, het hulle dienste gratis aangebied,” vertel Devigne.

Emo Adams en Anja Steyn van Media Tribe het ʼn baie spesiale video saamgestel van hoe die liedjie bymekaar gekom het terwyl Chameleon Audio die video gereed gekry het vir die kassie en ander sosialemediaplatforms.

Devigne se navorsing het hom gelei na die Tribuo-fonds, ʼn nie-winsgewende organisasie wat gestig is deur Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun.

Marc Devigne op die ‘The Voice’-verhoog. (Foto: Facebook)

Devigne het die inisiatief vir die opname van die liedjie aan die organisasie voorgelê en aangebied om die projek onder hulle vaandel te versprei.

“Hierdie gebaar om ʼn eg Suid-Afrikaanse liedjie op so ʼn spesiale manier aan te bied, is net weer ʼn bewys dat musiek universeel is met ʼn kragtige boodskap, ongeag die taal en nasionaliteit,” sê Nita Cronjé, voorsitter van die Tribuo-fonds.

“Je serai pour toi” is op alle digitale platforms beskikbaar. “Die idee is dat die video deur soveel moontlik mense gedeel word sodat die boodskap om die kunstebedryf by te staan die hele volk sal bereik.

“Ons doen derhalwe ʼn beroep op die media, die publiek en sakeondernemings om die projek te steun en hulle harte en beursies oop te maak vir die Tribuo-fonds,” sê Cronjé.

Die Tribuo-fonds is afhanklik van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen.

Bydraes kan deur private persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ʼn 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

Sedert die stigting van die Tribuo-fonds in 2020 is daar reeds meer as R3 miljoen ingesamel en versprei onder mense wat voor én agter die skerms in die uitvoerende kunste werk.

Kontak [email protected] vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Ek ken nie die Afrikaanse woorde nie, maar die Franse woorde is baie treffend.

FM ·

EK WIL VIR JOU

omgee

medelye

VADER se hartsliefde is sowaar internasionaal

dankie Marc Devigne

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.