Afrikaanse musiek: Dié jakkalsies verniel talent-wingerd

mikrofoon sing musiek

Argieffoto.

Deur Die Blou Leeu

Na aanleiding van ’n artikel oor Jannie du Toit op Netwerk24 deur Charlea Sieberhagen, “Ek is nie deel van die Afrikaanse musiekbedryf nie – Jannie du Toit”, word die volgende indruk van die Afrikaanse musiektoneel gegee.

Ná my besoek aan ’n onlangse fees van internasionale standaard is daar steeds ’n klein jakkals wat sy kop uitsteek. Die Afrikaanse musiekbom wat gebars het so ’n paar jaar terug was briljant, maar die bom het meer ’n atoom-effek as enigiets anders gehad.

Suid-Afrikaners, toekenningspanele, feeste en die “sangers” self kan hulle nie orden in ’n genre of kategorie nie. Almal is “goed” volgens gehore en almal “rock” en “country” terwyl dit steeds ’n dans-sokkie-doef-doef-ondertoon het. Banjo-klanke wat tans die wêreldgier is, word in Baby songs ingedwing. Sinlose rympies word saam met die perfekte plakkaat-beeld opgedis en indien jy nie kan sing oor jou backtracks nie, kan jy sommer mime of saam met jou eie stem bo-oor die CD sing.

Musiekverkope is wêreldwyd af, maar die neiging is nie so erg soos in Suid-Afrika nie. Hier is ’n gier waarvolgens al die nuwe musiek, veral van enkelsangers, in ’n vorm gegiet word vir radio-standaardspeellyste wat ook wedersyds onder mekaar giere navolg. Radiostasies het ook identiteit verloor.

Die jong mansmark tussen 18 en 25 het almal  Bobby van Jaarsveld-nabootsers geword terwyl die vroue tussen 18 en 25 almal Karlien wil naboots. Sommige baanbrekers, meer onlangs byvoorbeeld die Polisiekarre, is al deur menige “talentrowers” probeer naboots, maar dit was maar van korte duur. Die nabootsers word wel hul 15 minute van gewildheid in die kollig gegun deur soms verdwaalde media wat na mooi gesiggies en Hollywood-lyfies op soek is. Ek moet bieg die MK-generasie het baie cool gelyk, maar is ongelukkig soos ’n koek, mooi versier maar versadig nie.

Die euforie van die vroeër kunstenaars om ’n platekontrak te kry en gekeur of ontdek te word as sanger of liedjieskrywer het ’n sekere prestige saamgedra, maar hierdie celebrity-beeld is vandag heeltemal gekelder. ’n Sanger of akteur word hedendaags onder die normale professionele werkersklas as ’n grap van ’n stokperdjie beskou.

Te veel mense in Suid-Afrika sonder musiekkennis of -agtergrond neem CD’s op of wil sing. Dis een groot “glorified karaoke fest”. Sekere sangers het die spreekwoordelike deurbraak (lucky break) gehad, maar is ná vele jare in die bedryf steeds op ’n middelmatige vlak wat ook die norm geword het in ons bedryf. Om middelmatig te wees is goed genoeg. Die publiek kom dit egter agter en daarom word CD-verkope minder. Gehore by konserte luister met ’n halwe oor terwyl hulle eerder aan hulle bier teug, rugby gesels en stry oor wie gaan volgende in die ry staan vir die volgende drankie, en hier en daar tot liedjie nommer drie hoor jy sulke halfhartige gehandeklap.

Het ons volk moeg geraak vir dieselfde musiek en kunstenaars oor en oor waarmee hulle gebombardeer word? In my straat is daar seker nog nege ander mense wat ook al ’n CD opgeneem het. Platemaatskappye wat ’n monopolie het op sekere style, bondgenootskappe tussen maatskappye en mediahuise en “hand om die blaas”-mediavennote wat mekaar die stryd aansê om oorwinning raak ook belaglik.

Musiek en veral “organiese musiek” verloor tans. Die werklike liedjieskrywers en geskoolde musikante word fees ná fees en verhoog ná verhoog oor die hoof gesien om plek te maak vir kommersiële sensasie. Daar is ’n reuseverskil tussen musikante en vermaaklikheidskunstenaars. Ongelukkig, met enkele uitsonderings, sit Suid-Afrika met meer vermaaklikheidskunstenaars as regte musikante en liedjieskrywers. Daarom het die neiging van vertaalde Eurovision-liedjies wat reeds in die 40’s begin het, vandag nog nie sy plek afgestaan vir oorspronklike liriekskrywers nie.

Geen kunstenaars wat die tyd sal weerstaan, is werklik nog aan die orde van die dag nie, buiten enkele uitsonderings. Die mark bestaan uit een-treffer-verskynsels. Die beeld, kleredrag en houding wat saam met die aandag gepaardgaan, is belangriker as die inhoud van die musiek. Die onbevoegdheid en onbeholpenheid en ’n tekort aan ordentlike musiekresensente en -joernaliste veroorsaak dat artikels weekliks fokus op dieselfde groep sangers of vermaaklikheidsterre terwyl daar hordes nuwe ordentlike opnames in die massa verdwyn. Daar word meer gefokus op die sanger se persoonlike lewe as oor sy nuutste werk. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n goeie resensie gelees het nie.

Die tendens in Suid-Afrika is ook duidelik dat mense net in die bedryf is slegs vir geld (wat ook in 90% van die gevalle ’n illusie is). Die algemeenste antwoord op die vraag hoekom mense sang as loopbaan wil kies, is “want ek wil beroemd wees”. Daar is nie sprake van  kuns- of musiekintegriteit nie.

Mense maak musiek om die verkeerde redes. Mense wat werklik geen benul het van instrumentasie of sang nie, word deur allerhande tegnologiefoefies gehelp om ’n CD op die rak te sit. Die omslag is gewoonlik beter as die eintlike produk. Afrikaanse musiek is hedendaags kitskos-musiek. Dit versadig die publiek nie, hoewel die bedryf self oorvol en versadig is met spookasem-woorde en -melodieë.

Volwassenes skryf en sing liedjies op ’n graad 2-vlak. Tussen die toptien verkopers van 2014 is daar slegs een persoon met geskoolde musiekonderrig sover ek weet. EINA! Dis tyd dat die koring van die kaf geskei word. Groepe wat oop en bloot staan en mime op hoofverhoë met instrumente in die hand is ’n skande en die publiek word bedrieg deur ’n skarlakenwit vroom tandepasta-glimlag-beeld. Ander het weer die houding van rock-sterre in Los Angeles terwyl hulle krepeer van ellende in ’n Pretoriase voorstad in ’n meenthuiskompleks.

Gelukkig is daar ’n silwer randjie wat altyd skyn. Die ware liriekskrywers en instrumentaliste syfer hier en daar weer deur tussen al die jellievisse vir ’n teug asem, maar volgens my is die Afrikaanse bedryf die afgelope vyf jaar op sy kop gedraai. Soos ’n vriend van my dit beskryf: “Jou bedryf is nou soos ’n septiese tenk en al die drolle dryf bo, my vriend!”

My groot kopseer is my waarneming onlangs by ’n laerskool waar een van ons topkunstenaars opgetree het. Die gehoor en veral die kinders het dit afgelag, met opmerkings van dis “nou ’n klomp gemors”. ’n Gehandeklap van die sanger met die mikrofoon bo sy kop terwyl sy CD kliphard blêr en geen woord geuiter word nie, maak van sy gehoor dwase. Ek het egter die afgelope ruk met verskeie ouers en leerders gepraat. Daar is ’n algemene opvatting dat Afrikaans “alles dieselfde klink”, en die publiek begin al meer wegskram (veral kinders) van Afrikaanse musiek. Kinders begin reeds met die gier dat Afrikaans nie meer cool is nie. Ek is bekommerd dat dit gaan lei tot die verskynsel in die laat 80’s en vroeë 90’s in my eie jeugjare, naamlik dat kinders begin wegdryf van Afrikaanse musiek. Dit was vir ons generasie ook destyds baie uncool om Afrikaans te luister. Dit is ’n groot probleem vir Afrikaanse kuns en kultuur en ons taal in die toekoms.

Waar is die Gian Groens, Koos Doeps en Goosens heen?

Maar vir die oorspronklike skrywers en uitsonderings soos Francois van Coke, Karen Zoid, Joshua na die Reën en ’n handjievol ander, hou aan om die standaard te lig!

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Musiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Reinhardt

Baie dankie. Dit is iets wat ek al vir jare vir almal sê. Afrikaanse rock het sy piek bereik en n revolusie veroorsaak met FPK, Straatligkinders en Foto Na Dans. Ouens wat regte musiek kon maak met lirieke wat iets beteken. Tydens hoërskool was dit al waarna almal geluister het. Nou is dit n grap, ek wag in spanning vir die nuwe revolusie. Dit is so sleg deesdae dat selfs ek al oorweeg het om n CD te maak, want enigiets gaan beter wees as die gemors op radio.

Ida Jordaan

Ek stem nogal saam en sit baie keer verstom dat sekere kunstenaars wt nie kan sing of noothou nie, die kollig steel. Dis tyd dat mense soos Stephan Visagie raakgesien word vir die bydrae wat hy maak in die musiekbedryf. Sy stem, sy lirieke, ‘n ongelooflike goeie kunstenaar wat beslis ‘n wenner is.

Julius

goed geskryf. ek stem 100% saam met jou en koop lank nie meer afrikaanse CD,s nie.

Lola

Goed geskryf. Dis nou al die laaste 2 weke dat ek terug is by Laurika en Valient en Annelie en Anton se ou liedjies want regtig…..soos Reinhardt is ek ook al lus om my eie cd uit te ryk. En ek kan ook nie sing nie!

Maryke

Goeie stukkie skryfwerk, net jammer vir die kunste snobisme. Daar is ‘n plekkie vir almal in die son. Van die een wat musiekagtergrond, opleiding en grade het, tot die baby liedjies met die sokkie ondertoon. Party dae verlustig ek my in Laurika Rauch, ander dae in meer opgewekte liedjies wat my voete kielie om ‘n danspassie uit te voer. Dan kan ek weer ure luister na die heuning in die stemme van Theuns en Matthys. Ander dae wil ek stout wees met die Jay’s, Ray’s en die Riana’s. Nee wat, musiek is musiek en dit maak nie saak of jy… Lees meer »