Afrikaanse Musiekfees 10

27 Augustus 2011

Die Afrikaanse Musiekfees 10 is hier. Tien jaar van uitverkoopte en hoogs suksesvolle Afrikaanse Musiekfeeste by Carnival City. Vanjaar se Afrikaanse Musiekfees 10 word op 27 Augustus om 19:00 by Carnival City aangebied met meer as 20 kunstenaars op een verhoog!

In tien jaar het meer as 31 500 mense die Afrikaanse Musiekfeeste by Carnival City bygewoon, 16 aanbieders soos Casper de Vries, Charleen Surtie-Richards, Zack du Plessis, Lizz Meiring en andere het die konserte aangebied en 140 kunstenaars het oor die jare in die produksie opgetree. “Die Afrikaanse Musiekfeeste by Carnival City was werklik geseënd oor die jare,” sê regisseur, Frans Swart. “Ek onthou tien jaar gelede toe ek vir die eerste keer met Rod Walker, die Algemene Bestuurder van Carnival City, gaan onderhandel het oor die eerste Afrikaanse Musiekfees. Daar is op daardie stadium GEEN Afrikaanse vermaak by Carnival City aangebied nie. Hy was maar bra skepties en het gesê hy gee ons een kans. As ons dit verbrou is dit neusie verby vir Afrikaans by Carnival City. Gelukkig was dit ‘n reuse sukses en weke voor die tyd reeds totaal uitverkoop. Die res is geskiedenis. Vir die afgelope nege jaar is die Afrikaanse Musiekfees nog elke jaar weke voor die tyd uitverkoop.” Swart sê ook dat hierdie reeks konserte die pad gebaan het vir Afrikaans by Carnival City sowel as by ander casino’s. “Beslis so ja. As ek nie hoed in die hand gaan staan het vir die Afrikaanse Musiekfees nie, sou Carnival City en ander casinos nie gesien het watter ondersteuning daar is vir Afrikaanse kunstenaars en teater nie en sou Afrikaans nie die ruimte gekry het wat dit vandag het nie. Rod se woorde al die jare daarna was – ‘I love your Afrikaans shows – it is sold out everytime, your audiences are well behaved, they watch the show, they eat, they drink, they gamble and they have fun!”

Hannes Brummer

Vir die tiende jaar het Frans Swart, die regisseur en Lefra Produksies twintig van Suid-Afrika se top kunstenaars opgekommandeer om hierdie groot mylpaal te vier. Die aanbieders is Tjailatyd aanbieder, Amore Bekker en komediant en snaakse man, Hannes Brummer. Dan spog Afrikaanse Musiekfees 10 met Anton Goosen, Amor Vittone, Anél, Die Colletts, Hannes van Tonder, Helene Bester, Henri Alant, Jannie Moolman, Jak de Priester, Jennifer Zamudio, Lemé, Leandie Lombaard, Lise Swart, MD Greyling, Rea le Roux, Sonja Herholdt, Vaughan Gardiner en Wasserfall.

“Hierdie tiende Afrikaanse Musiekfees by Carnival City gaan definitief ‘n fees wees om te onthou,” sê Frans Swart, vervaardiger en skepper van die AFRIKAANSE MUSIEKFEESTE. “Ek is baie opgewonde oor die kaliber kunstenaars wat ons bymekaar gekry het en die uiteenlopende genres maak dit dat daar werklik iets vir almal is. Ons probeer om ‘n totale spektrum van kunstenaars aan ons gehore te bied – van meer gevestigde kunstenaars tot splinternuwe opwindende jong kunstenaars.”

Volgens die organiseerders is dit maar min dat hierdie musiekfeeste op so ‘n groot skaal in Gauteng aangebied word, en is Carnival City se Big Top Arena die ideale venue vir so ‘n musiekfees. “Met die kaliber kunstenaars wat gaan optree, gaan ons heerlik musiekfees hou, want dis nie aldag dat meer as 20 top kunstenaars saam op een verhoog gesien word nie. Die uitdaging is egter om die produksie so vinnig as moontlik te laat vloei, want die gehoor moet altyd vir meer vra. Hulle moet nooit moeg word nie!”

Besprekings kan gedoen word by Computicket (011) 340 8000 of by www.computicket.com Groepe meer as 10 @ afslagpryse –skakel Zena by (011) 815 3000 of epos aan [email protected] Diensorganisasies, kerke, skole ens kan ook van die Afrikaanse Musiekfees 10 gebruik maak om fondse in te samel teen baie lae risiko – skakel Lefra Produksies by (011) 815 3000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.