Afrikaanse rockers laat Kerkorrel-album herleef

Sowat 30 jaar gelede het die Afrikaanse musieklegende Johannes Kerkorrel en sy orkes, Die Gereformeerde Blues Band, se album getiteld Eet Kreef! opslae gemaak toe die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) dit van radiospeellyste verban het.

Dié satiriese musikale meesterstuk is nou deur die bekende akteur en Afrikaanse rocker Laudo Liebenberg van die musiekgroep aKING, Frank Freeman, Sheldon Yoko, Etienne van Rooyen en Schalk van der Merwe, herinterpreteer met ʼn moderne opname van die album Eet Kreef Herleef! wat bekende snitte soos “Sit dit af”, “Hillbrow”, “Energie” en die bonussnit “Hoe ek voel” insluit.

Liebenberg en Freeman sing en speel kitaar, Yoko speel tromme, Van der Merwe is op baskitaar en Van Rooyen speel klawerbord. Nicole Mitchell is verantwoordelik vir die agtergrondsang.

“Ek het onlangs Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en gedink oor hoe relevant dit nou nog klink,” sê Freeman oor hoe die idee van die moderne opname van die album ontstaan het.

“Die album was iets uniek in Afrikaanse musiek met die uitreiking daarvan en dit staan vandag steeds sterk. Die oorspronklike idee agter die projek was gebaseer op die musiek alleen. Ek wou die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur in ʼn nuwe produksie sit en op ʼn manier die verlede en die hede bymekaar bring. Aan die een kant wou ek mense herinner dat daar ʼn ryk geskiedenis is van alternatiewe Afrikaanse musiek en aan die ander kant dat daar ʼn toekoms daarvoor is.”

Freeman verduidelik hoe meer vertonings hulle gedoen het, hoe meer het hulle agtergekom hoe emosioneel geheg mense aan die musiek is.

“Toe die geleentheid opduik om ʼn album van die projek te maak was die manier waarop ons dit opneem vir my belangrik. Dit moes regstreeks opgeneem word met almal wat in ʼn kamer saam speel. Net soos die vertonings. Dit is presies wat ons gedoen het. Ons het alles opgeneem in drie dae en ek is trots op die eindproduk. Wat jy hoor is ons wat speel en sweet in ʼn kamer. Eerlik en sonder te veel afronding.”

Die groep wat 'Eet Kreef' laat herleef. (Foto: Verskaf)

Die groep wat ‘Eet Kreef’ laat herleef. (Foto: Verskaf)

Liebenberg het gesê dit was ʼn groot uitdaging om ʼn album soos dié op te neem omdat dit so uniek is en baie na aan mense se harte lê.

“Ons het van die begin af gesê dat dit ʼn verwerking moet wees en nie ʼn tribute show nie. Sit jou eie stempel op en wees eerlik en respekvol teenoor die liedjie is my mantra vir hierdie album en vertonings,” het Liebenberg gesê.

Jannie Hanepoot van Tonder, wat deel was van die Gereformeerde Blues Band, het na die album geluister.

“Dit is uitstekende weergawes deur topmusikante wat fantastiese vertolkings lewer. Ek hou die meeste van die liedjies wat hulle hul eie gemaak het. ‘Ry’ is baie cool, dalk beter as die oorspronklike. Hierdie siniese ou ballie se enigste kritiek is dat dit is soms bietjie té goed is – ek mis die angs.”

Van Tonder voeg by dat hy nou besef hoe tydloos die meeste die snitte is wanneer hy na die nuwe weergawes luister. “Wanneer ek daarna luister, word ek teruggevoer na daardie ingewikkelde dae in die 1980’s, so ons vergeet maklik die universele relevansie van Ralph [Rabie, Johannes Kerkorrel se regte naam] se ongelooflike lirieke.”

Die Eet Kreef Herleef!-vertonings word deur dieselfde groep musikante aangebied op 18 Desember by Evita se Perron in Darling, asook by die US Woordfees op Stellenbosch op 15 Maart en by die Atterbury-teater in Pretoria op 27 en 28 Maart.

Die album kan hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

“Musikale meesterstuk”: gelukkig is dit die skrywer se opinie en geen feit nie.

RP ·

In my opinie ook is dit ‘n absolute meesterstuk. Dit is tydloos, dit praat oor n deel van ons geskiedenis en dit ontlok gesprek – dit noem mens kuns.

Niemand gaan baby tjoklits oor 10 jaar onthou nie.

RP ·

Uitstekend oorgedoen, Laudo se stem is net eenvoudig fantasties. Een kritiek wat ek wel het is dit hy sê hy wil die liedjies sy eie maak en nie net dit oordoen soos wat Kerkorrel dit gedoen het nie, maar tog klink baie van die liedjies steeds erg soos Kerkorrel se weergawe. Bv, was dit nodig om ook n klavier te gebruik in Sit Dit Af? Die song klink presies dieselfde.

Essa ·

Stem saam RP; dis goed gedoen. Dit was oorspronklik kwaliteit musiek en word hier uitstekend aangebied. Die wat nie so daaroor voel nie gun tog maar elkeen sy eie smaak en voorkeur en herinneringe.

Bravo!, Ek klap hande vir julle ·

Net so briljant soos die fliek “Johnny is nie Dood nie”. Dit was wonderlike bevrydende alternatiewe tye gewees vir die andersdenkendes en verligtes, let wel wanneer die brutale Apartheids veiligheidspolisie nie mense getreiter het nie was die tye goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.