Afrikaanse rockmusiek in goeie hande

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Afrikaanse rockmusiek was as rebels of alternatief beskou in die vroeër dekades, soos die laat 1980’s toe Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Valiant Swart koning gekraai het en die Voëlvrytoer mense aan die praat gehad het. Protesliedere deur hierdie musikante het menige staatsinstansies die josie ingehad, min wetend wat hierdie era en genre sou bydra tot vandag se musiekskat.

Anton Goosen is natuurlik die hoofanker en “godfather” wat liedjieskryf betref, en is steeds menige rockers se inspirasie. Afrikaanse rockmusiek het van krag tot krag gegaan van die 1990’s met groepe en kunstenaars wat in Voëlvrytoer se spore gevolg het. Groepe en kunstenaars soos Akkedis, Beeskraal, Abel Kraamsaal, Ddisselblom, Klopjag, Gian Groen en Karen Zoid het weer die fondasie gelê vir die MK-generasie waar dié genre TV-kanale soos MK oorheers het.

Fokofpolisiekar was revolusionêr en het die genre weer op die voorgrond geplaas met groot aanhang en ondersteuning. Groepe soos Heuwels Fantasties, Straatligkinders en Nagligte het gevorm, is besonder gewild vandag onder gehore en feesgangers pak die stoele vol waar hierdie groepe optree. Feeste soos KKNK, Aardklop en Oppikoppi was van die eerstes wat plek gemaak het vir hierdie genre en gesorg het dat Afrikaanse rockmusiek gesond en lewend bly. Vandag word Afrikaanse rockmusiek nie meer as rebels of alternatief beskou nie en geen fees word meer gehou sonder die teenwoordigheid van een van hierdie groepe nie.

Skrywers soos Anton Goosen, Koos Kombuis en Valiant Swart is steeds aktief en meer gewild as ooit. Alhoewel sokkie-bokkie-treffers en kommersiële popmusiek steeds meer albums verkoop, hoef Afrikaanse rockmusiek glad nie terug te staan vir hoofstroommusiek nie. Met ’n handjievol werklik goeie kunstenaars is lokale vol en gehore op hulle voete wanneer die kunstenaars optree. Onlangs is dit weer bewys met Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”-video wat al meer as 1,5 miljoen keer op YouTube gekyk is. Dit maak dit die mees gekykte video tot dusver in die Afrikaanse musiekgeskiedenis. Lank leef Afrikaanse rock ’n roll!

Skakel na “Toe vind ek jou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.