Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper gaan binnekort die mikrofoon tydelik opsy skuif om teen 11 ander plaaslike mans mee te ding om as die sexyste man in Suid-Afrika gekroon te word.
Dié sanger is einde verlede jaar as een van die 12 finaliste in die tydskrif Cosmopolitan se jaarlikse kompetisie aangewys.
Dié kroon, wat vantevore al deur onder andere Bobby van Jaarsveld gedra is, sal binnekort aan die wenner oorhandig word.
“Al hierdie dinge het skielik oor my pad gekom – dis ʼn baie opwindende tyd vir my en ek gryp elke geleentheid met ope arms aan,” het Brendan vertel. “Ek is innig dankbaar vir elke nuwe deur wat oopgaan, elke stem, elke bietjie aanmoediging, elke paar voete by ʼn konsert en elke album wat ek met iemand kan deel!”
Die 21-jarige sanger het intussen ook bekend gemaak dat hy een van die deelnemers is aan die jongste seisoensreeks van Tropika Island of Treasure.
Sewe bekendes, wat onder andere Melinda Bam, Karabo Mogane en Tumi Voster insluit, gaan op die Maldive-eilandgroep meeding om uiteindelik R1 miljoen te ontvang.
Tropika Island of Treasure bestaan uit ʼn stel moeilike uitdagings wat deelnemers se ratsheid, handvaardigheid, koördinasie, uithouvermoë en intelligensie tot die uiterste beproef. Dié reeks word vanaf 5 Februarie op SABC 3 gebeeldsaai.
Die sanger se jongste album, Hy loop oop, en nuwe enkelsnit, “Jou mond is in die pad”, is ook onlangs uitgereik.
Mooi so Brendan….. reach for the stars……