Afrikaanse treffers 1979: Kruidjie-roer-my-nie – Anton Goosen

Anton-Goosen

Foto: Youtube.com

As daar een jaar was wat as ʼn waterskeiding vir Afrikaanse musiek beskou kon word, was dit 1979, toe die Musiek-en-Liriek-beweging ontstaan het.

Anton Goosen het die eerste kunstenaar geword wat ʼn album vrygestel het wat net bestaan het uit liedjies waarvoor hy die musiek en die woorde geskryf het. Die titelsnit, Boy van die suburbs, asook Begrafnistyd in Zeerust, is verbied, asook die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie, wat vir die rolprent Pretoria o Pretoria geskryf is. Hy het egter die woorde herskryf en in 1979 met die louere op Afrikaanse Treffers weggestap. Daarby was hy ook sestien weke lank op Springbok Radio se Top 20 met dieselfde liedjie.

Nog ʼn nuwe kunstenaar wat in 1979 tot die toneel toegetree het, was Laurika Rauch. Kinders van die wind was ʼn komposisie van Koos du Plessis, wat toe nog onbekend was en dit het ʼn groot treffer geword toe dit die temaliedjie van die televisiereeks Phoenix en Kie geword het. Op Laurika se eerste album met die gepaste titel Debuut het nog ʼn Koos du Plessis-komposisie voorgekom, naamlik Sprokie vir ʼn stadskind asook ʼn toonsetting van die Ingrid Jonker-gedig Toemaar die donker man. Anton Goosen se komposisie Vergeet om my te vergeet/Onthou om te onthou was nog ʼn groot treffer vanaf hierdie album.

Sonja Herholdt het weer eens ʼn trefferalbum vrygestel, naamlik Waterblommetjies. Naas die titelsnit was Ta’Mossie se sakkie-sakkie boeredans, Die mense wat ek liefhet en Trein na Matjiesfontein groot treffers. Soos Heidi die vorige jaar het Pinocchio oud en jonk vasgenael gehad voor die televisie en Mynie Grové het ʼn oorspronklike temaliedjie geskryf en gesing. Ander treffers vanaf haar album Liedjies vir kleuters wat gewild geword het, was Die paddakonsert en Kalie Kieterkat. Die musikale verwerking op laasgenoemde snit was doodeenvoudig skitterend.

Sias Reinecke en Joanna Field het saamgespan vir hul duetalbum Want ons is bymekaar. Naas die titelsnit was Liefde is net ʼn spel, Tesame en Waarom is maar net ʼn woord (wat ook onlangs deur Burgerd en Zita opgeneem is) treffers.

Dit was ook die eerste keer wat die publiek van Cora-Marie gehoor het.  Veg vir jou land en Vreugde op die plaas is op een kortspeler vrygestel, terwyl haar opname van Anton Goosen se Ster van Bethlehem ook daardie jaar verskyn het. Hierdie liedjie is egter summier deur die SAUK verbied. Carike Keuzenkamp het een van die grootste treffers van haar loopbaan gehad toe Anton Goosen die titelsnit vanaf haar album Byeboerwa geskryf het.  Ander treffers op hierdie album was Wilgelied, Kaalvoet in die reën en Lang maer blonde man.

https://youtu.be/jg8sohf5eA0

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tania ·

Anton het jy daai bril in ‘n lucky packet vir dogtertjies gekry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.