Afrikaanse treffers 1980: Harlekyn – Sonja Herholdt

Sonja Herholdt het weer die topposisie op die Afrikaanse Treffers ranglys in 1980 gehad. Foto: Argief.

Sonja Herholdt het weer die topposisie op die Afrikaanse Treffers se ranglys in 1980 gehad. Foto: Argief.

Dit was Sonja Herholdt se tweede, en laaste, algehele wenner en die titelsnit van die laaste album waarop Anton Goosen die meerderheid liedjies geskryf het.

Sonja het ook haar verskyning in die rolprent Sing vir die harlekyn, waarvan Harlekyn die temaliedjie was, as aktrise gemaak. Hierdie album het ook die treffers Oberammergau, wat later ook in Duits vertaal is, en Blouwaterberge opgelewer.

Sias Reinecke was terug op die toneel met sy album Ek en my kitaar. Die titelsnit het Sias se kenwysie geword, en ander treffers vanaf hierdie album was ʼn Lang pad huis toe (wat Sias saam met Morkel Steyn geskryf het en ook deur die A Capella-koor, waarvan Morkel ʼn lid was, opgeneem is) en Saam met jou. Die groot treffer vanaf hierdie album sou eers later radiolugtyd kry, maar meer later hieroor.

Nadat Laurika Rauch sukses met Koos du Plessis se komposisie Kinders van die wind gehad het, is Koos se debuutalbum, Skadu’s teen die muur vrygestel. Benewens die titelsnit was Op die pad na Nooitgedacht, Sprokie vir ʼn stadskind, As jy my kon volg, Pretoria en Skielik is jy vry ook groot treffers.

Herman Holtzhausen het die ATKV se Crescendo-kompetisie daardie jaar in die kategorie van beste komponis gewen, en sy eerste enkelsnit, Trans-Karoo is vrygestel. Dit sou egter eers later ʼn groot treffer word. Carike het Byeboerwa opgevolg met Boemelaar, Simon, Rondomtaliepop en Swakopmund.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.