Afrikaanse treffers 1981: Sproetjies – Sias Reinecke

Sias-Reinecke-se-Sproetjies

Sias Reinecke se treffer Sproetjies was die gewildste liedjie in 1981 op radioprogram, Afrikaanse treffers. Foto: Youtube.com

Toe Sias Reinecke se album Ek en my kitaar vrygestel is, was Sproetjies amper nie ingesluit nie. Dit was ʼn Afrikaanse weergawe van Freckles, ʼn treffer deur die country-groep The Oak Ridge Boys, waarvoor Sias se voormalige sangmaat, Gert van Tonder, die Afrikaanse woorde geskryf het. Dit was op die ou einde so suksesvol dat die album heruitgereik is met Sproetjies as titelsnit.

Deur die jare het verskeie platemaatskappye dieselfde ding gedoen. Cora-Marie se debuutalbum, Lang verlang kontrei, is die vorige jaar vrygestel, maar Gee haar ʼn roos het in Maart 1981 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree.

Jannie du Toit het daardie jaar op die toneel verskyn met sy debuutalbum, Liedjie vir jou. Hy het die album self gefinansier en versprei; nogtans het veral die titelsnit ʼn groot treffer geword. Nog treffers wat dié album opgelewer het, was Min of meer en Stadsgeluide.

Nog ʼn nuwe kunstenaar wat daardie jaar sy debuut gemaak het, was Louis van Rensburg, wie se debuutalbum Katvoet die treffers Hier by jou, Bella Boklam en Voshaarnooi opgelewer het. Laasgenoemde sou eers baie jare later ʼn treffer word.

David Kramer se debuutalbum, Bakgat, is vroeg in 1981 vrygestel, maar dit was met sy tweede album, Die verhaal van/The story of Blokkies Joubert wat hy die publiek se verbeelding aangegryp het. Haak hom Blokkies was die laaste eg Suid-Afrikaanse liedjie wat die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 gehaal het, maar net die refrein was Afrikaans. Hy het dit egter opgevolg met Royal hotel, nog ʼn Top 20-treffer, en Montagu; albei Afrikaanse liedjies.

https://youtu.be/8Krws5V9vdQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.