Afrikaanse treffers 1982: Die rugbyonthaal – Leon Schuster

Leon Schuster. Foto: Leonschuster.com

Leon Schuster. Foto: Leonschuster.com

Die grootste gebeurtenis in Afrikaanse musiek in 1982 was nie ʼn nuwe kunstenaar wat op die toneel verskyn het nie, maar eerder ʼn nuwe platemaatskappy. Decibel sou die Afrikaanse musiektoneel lank oorheers, en Sias Reinecke se album Meisie was die eerste een wat deur Decibel vrygestel is.

Leon Schuster was nog een van die eerste kunstenaars wat ʼn kontrak by Decibel losgeslaan het. Leon het by die SAUK as omroeper gewerk en sy program Die vrypostige mikrofoon, waarin hy met allerhande mense die draak oor die telefoon gesteek het, was baie gewild. Hy het in die 1970’s ook gereeld liedjies oor groot sportgebeurtenisse op bekende wysies geskryf, onder meer Gerrie “ser handjies” Coetzee (op die wysie van Kruidjie-roer-my-nie) en Oom Flippie se bielie-bielie boksmasjien (op die wysie van Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans). Hy het ook Afrikaanse woorde vir Joe Dolce se nr. 1-treffer Shaddap you face geskryf en dit Hou jou bek genoem, maar die SAUK het dit verbied. Toe Leon egter sy kontrak by Decibel gekry het, het hy ʼn langspeelplaat vrygestel; dit het egter nie net rugbyliedjies bevat nie. Die groot treffer op die album, en die Treffer van die Jaar in 1982 was Die rugbyonthaal. Sias Reinecke het dit saam met Leon geskryf; en niemand sou sekerlik op daardie stadium kon dink dat dit Sias se heel laaste bydrae tot Afrikaanse musiek sou wees nie.

Nog groot treffers was die Ruben Lennox-komposisies Drieë-drieë en She sells sea shells, asook Dis lekker innie army, op die wysie van Mac Davis se treffer It’s hard to be humble.  Twee Afrikaanse liedjes was daardie jaar op Springbok Radio se Top 20, naamlik Gee vir my ʼn bietjie country van Cora-Marie en Anneli se eerste groot treffer Sewe sakke sout. Sias Reinecke se groot treffers daardie jaar was Wie sal kom nagsê?Parstyd in die Boland en Herinnerings aan jou, maar hy is in Oktober aan ʼn hartaanval oorlede terwyl hy op toer was.

Die groot treffer onder die jongklomp was Mark Annandale se Rondomtalie, wat almal aan die sing gehad het, maar nie Springbok Radio se Top 20 kon haal nie.

Hier is 2007-verwerking van die liedjie wat in 1982 ‘n treffer was:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.