Afrikaanse treffers 1983: Vyfster – Lloyd Ross

Teen die einde van 1982 was een van die heel beste Afrikaanse dramareekse tot nog toe op televisie te sien, naamlik die gevangenisdrama Vyfster.

Vyfster-deur-Lloyd-Ross

Vyfster deur Lloyd Ross. Foto: Verskaf.

Dit was die hoogtepunt van die akteur George Ballot se loopbaan, en hy het ʼn legende geword met sy vertolking van Skollie. Die temamusiek is deur die kitaarspeler Lloyd Ross gekomponeer en gespeel en dit het vroeg in 1983 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit was ook die enigste instrumentale snit wat die treffer van die jaar geword het.

Daar was ook ʼn nuwe sanger wat vir die eerste keer sy toetrede tot die Afrikaanse musiektoneel gemaak het. Kupido se Was ek maar ʼn digter het ʼn groot treffer geword, en hy en Cora-Marie het later begin saamsing.  David Kramer se eerste oorwegend Afrikaanse album, Hanepootpad, het die treffers Stanley en die koei en Montagu opgelewer, en die Volkswagen Kombi-advertensies waarin hy daarna sou verskyn, het sy gewildheid nog verder laat toeneem.

Leon Schuster het sy tweede album, Broekskeur, vrygestel en treffers met Swem Jannie swem, Mokkiesdam se eerste span en Druk hom Sakkie gehad.

Nadat Anneli van Rooyen haar eerste album vir Decibel, Ek wil jou ken, vrygestel het, het haar gewildheid ook verder toegeneem, as gevolg van die titelsnit, Eerste liefde (ʼn komposisie van Christa Steyn) en veral die titelsnit. Laasgenoemde was seker een van die grootste treffers van haar loopbaan.

Janita Claassen se debuutalbum is ook daardie jaar vrygestel en Rolbos het ʼn groot treffer geword. Nog ʼn sopraan wat haar debuut gemaak het en ʼn legende geword het, was Rina Hugo. Rina was ʼn wenner van die ATKV se Crescendo-kompetisie en veral Ek sien vandag die son weer skyn, waarvoor Leon Schuster die woorde geskryf het, het ʼn groot treffer geword. Nog ʼn voormalige Crescendo-wenner wie se debuutalbum daardie jaar verskyn het, was Karin Hougaard. Dié album, met die gepaste titel Eerste afspraak, het die treffers Swaeltjie en Lui lui telefoon opgelewer.

Een van die beste Afrikaanse albums daardie jaar was Coenie de Villiers se debuutalbum, Skoppensboer. Hoewel sommige snitte deur die SAUK verbied is, het dit die treffers Namakwaland, Sien jou weer en Karoonag opgelewer.

Hierdie musiekvideo bevat die temaliedjies van beide Vyster en die televisiereeks, Arende:

https://youtu.be/kJuVuEpTMBs

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.