Afrikaanse treffers 1987: Reik na die sterre- Bles Bridges

Bles Bridges se Deur die jare heen volume 2 album. Foto: Argief.

Bles Bridges se Deur die jare heen volume 2 album. Foto: Argief.

Hoewel Ruiter van die windjie seker as Bles se grootste treffer beskou is, was dit die titelsnit van sy volgende album, Reik na die sterre, wat sy enigste Treffer van die jaar geword het.

Dit was egter ʼn baie goeie jaar vir Afrikaanse musiek en verskeie kunstenaars kon met die louere weggestap het. Carike Keuzenkamp het haar veertigste verjaardag en haar twintigste jaar in die musiekbedryf gevier met die album Ek sing…, wat die groot treffer Dis ʼn land opgelewer het. Nog ʼn treffer vanaf dié album was Bartholomeu Dias, op die wysie van The Beach Boys se Sloop John B.

Coenie de Villiers het die skitterende album Kruispaaie vrygestel, met die treffers Daar’s ʼn plek, Arende en Donkerlieg.  Johan Stemmet was destyds nog die aanbieder van Teletreffers, maar hy het die album As ek maar net kon sê, met die treffer C’est la vie, vrygestel.

Die televisiereeks Debuut is uitgesaai om nuwe talent in Afrikaanse musiek aan die publiek voor te stel, maar net die wenners, Innes en Franna Benadé, het ʼn suksesvolle loopbaan gehad. Hul debuutalbum, Ek weet ek kan, het die twee liedjies wat hulle tydens dié kompetisie gesing het, Pretoria en By my vanaand, ingesluit.

Laurika Rauch het haar eerste album in vier jaar, Encore Laurika, teen die einde van 1987 vrygestel, en veral Op Blouberg se strand het baie gewild geword. Die klankbaan van die televisiereeks Ballade vir ʼn enkeling was ʼn groot sukses, veral as gevolg van Louis van Rensburg se Voshaarnooi, wat as liefdestema gebruik is en van voor af ʼn treffer geword het en Enkeling, die temaliedjie van dié reeks wat deur Richard van der Westhuizen gesing is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.