Afrikaanse treffers 1988: Ek lewe- Anneli van Rooyen

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen. Foto: Argief.

Gewoonlik is dit ʼn splinternuwe liedjie wat die Treffer van die Jaar word, maar Anneli het gewys dat dit nie noodwendig die geval hoef te wees nie.

Hoewel sy die album Soos ou vriende vrygestel en treffers met die titelsnit en Ek mis jou so gehad het, was dit die titelsnit van haar vorige album, Ek lewe, wat die Treffer van die Jaar geword het.

Danie Niehaus se tweede album, Rondloper, het ʼn groot indruk op die publiek gemaak, veral as gevolg van die Mynie Grové-komposisie Sweef soos ʼn arend. Hy en Leon Schuster het daardie jaar ʼn landwye toer onderneem; Leon se album, Dasiefoutie, is terselfdertyd vrygestel, en veral die titelsnit, Province en Dirty dancing het treffers geword.

Janita Claassen was terug, nie net met haar album Oorwinter nie, maar ook met Liefde… immergroen saam met Manuel Escorcio, wat veral die treffers Ons duet en Kosmos opgelewer het. Die titelsnit, geskryf deur Christa Steyn, was ook baie gewild.

Amanda Luyt se debuutalbum, My verlange, het veral uit vertolkings van ouer treffers bestaan, onder meer Die seewind bring heimwee, Sonder jou (van Ian en Dix), Aandlied van die voëls en Ek kyk graag so diep in jou oë. Die akteur Ronny Belcher se debuutalbum, Ek is verlief op jou, is ook vrygestel, maar hy sou eers later sukses met sy musiek behaal.

Carike Keuzenkamp het ʼn groot treffer gehad met Dit reën in Tsitsikama, waarvoor Jurie Els die woorde geskryf het.  Die grootste gebeurtenis van die jaar was egter die ontstaan van die Voëlvry-beweging, waarvan Johannes Kerkorrel (aanvanklik saam met die Gereformeerde Blues Band), Koos Kombuis en Bernoldus Niemand onder meer deel was, maar met die uitsondering van Kerkorrel se treffer Hillbrow is al hierdie musiek deur die SAUK verbied. Dié beweging sou egter, net soos Musiek en Liriek, ʼn invloed op die toekoms van Afrikaanse musiek hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.