Afrikaanse treffers 1989: Hoor jy my stem?- Rina Hugo

Edwill van Aarde en Derrich Gardner. Foto: RSG

Edwill van Aarde en Derrich Gardner. Foto: RSG

Rina Hugo het die rekord vir die meeste Treffers van die Jaar verbeter met haar derde algehele wenner – nog ʼn bestaande wysie met Afrikaanse woorde. Sy kon egter ook die titel met Verlore is ons nie verower het.

Anneli van Rooyen se album Voel die lewe het die treffer Hierdie dag is myne opgelewer, asook Jy is my 24 uur. Johan Stemmet was ook terug, hierdie keer met die album ʼn Deel van my, met die treffers “Pa se grootman” en Daar in Namakwaland.

Tot dusver is Christelike musiek omtrent net in kerke gehoor, maar Jan de Wet, die pionier van eietydse Christelike musiek soos ons dit vandag ken, het gewys dat dit nie die geval hoef te wees nie. Sy album, Via Dolorosa, het die reusetreffer Hierdie Kind opgelewer. Dit was die Scott Wesley Brown-treffer This Little Child met Afrikaanse woorde, maar Danny Antill se musiekverwerking en Jan se baie goeie Afrikaanse woorde het dit ʼn treffer gemaak. Die titelsnit het self ook gewild geword.

Steve Hofmeyr het sy debuut as akteur in Agter elke man gemaak, maar sy debuutalbum, Desertbound, is daardie jaar vrygestel. Dié album was oorwegend Engels, maar een van die Afrikaanse snitte, Laaste lag, het baie gewild geword. Weereens was daar ʼn Debuut-reeks, en hierdie keer het twee van die finaliste ʼn blywende indruk op die publiek gemaak. Marié du Toit se debuutalbum, Hier is ek, is vrygestel kort nadat sy as wenner aangewys is en Hoor hoe klop my hart en Glo my het treffers geword.

Karin Hougaard was terug met haar tweede album, Herontmoeting, wat die treffers Gly op die reënboog, Spoortjies en haar weergawe van Sweef soos ʼn arend ingesluit het. Amanda Luyt se tweede album, Woorde, was meer suksesvol as haar debuut, veral danksy die treffer As jy aan eendag glo.

Manuel Escorcio se album Hei Monique het so erg onder kritiek deurgeloop dat daar besluit is dit is nie geskik vir radiolugtyd nie. Nogtans het Donkerbruin oë ʼn treffer geword. David Kramer was terug met sy album Eina, en veral Meisie sonner sokkies het baie gewild geword.

Carike Keuzenkamp het groot sukses behaal met Onthou jy nog, waarvoor die titelsnit deur niemand anders nie as Koos du Plessis geskryf is. Ander treffers op dié album was haar weergawe van die Anton Goosen-komposisie Silver de Lange, asook Kaapse karnaval en Sê my waar ek jou kan kry.

Anton Goosen het met onder andere Lucas Maree en Helena Hettema saamgespan vir Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek se album Winde van verandering, wat die treffer Kalbassies opgelewer het. Lucas was egter nie tevrede met die politieke strekking van dié album nie en hulle het besluit om weer hul eie onderskeie rigtings in te slaan.

https://www.youtube.com/watch?v=rk_fiUNxGaQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.