Anneli van Rooyen het die derde kunstenaar geword wat meer as een Treffer van die Jaar gehad het. Dit was egter nie maklik nie, want daar was ʼn hele aantal liedjies wat ook met die louere sou kon wegstap.
André Schwartz se eerste Afrikaanse album, Lief vir alles, is vrygestel, en benewens die titelsnit was “Ek wil jou nooit weer sien” ʼn groot treffer. Benewens die grensverskuiwende liriek was die musiekvideo, waarin Casper de Vries, Pierre Knoesen en Tobie Cronjé te sien was, ook ʼn belangrike rede hiervoor.
Gé Korsten het lank laas ʼn groot treffer gehad, maar met Lied van die lewe het hy weer die kol getref. Die naaswenner van die vorige jaar se Debuut-kompetisie, Danie Botha, het eindelik sy debuutalbum vrygestel, en Wie kan dit verstaan, asook die titelsnit, “Wenners”, was baie gewild. Die getroude sangpaar Francois en Elizabeth Fourie het groot sukses met “Wil jy dans Carina” behaal, tot so ʼn mate dat hul album Seemeeu onder hierdie titel heruitgereik is.
Steve Hofmeyr het sy tweede album daardie jaar vrygestel, en Agter elke man, wat vir die rolprentweergawe van hierdie bekende televisiereeks geskryf is, het een van sy grootste treffers geword. Een van die heel grootste Afrikaanse treffers tot nog toe het daardie jaar die lig gesien toe Laurika Rauch die album Stuur groete aan Mannetjies Roux vrygestel het. Die titelsnit is geskryf deur haar man, Chris Torr, en daar word gesê dat dit dalk selfs gewilder as Kinders van die wind geword het.