Afrikaanse treffers 1993: Ek mis jou elke dag ʼn bietjie meer – Rina Hugo en Gé Korsten

ge-korsten

Gé Korsten. Foto: Chessaleeinlondon.wordpress.com

Dit was die laaste Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers, en dis eintlik snaaks dat Rina en Gé nie lank tevore al saam gesing het nie. Hul duetalbum was bloot getitel Rina en Gé en die ander snit daarop wat ʼn treffer geword het, was ʼn “Liefde wat vir altyd bly”.

André Schwartz was terug met sy derde Afrikaanse album, Ritme deur die nag, met die treffers “Ek weet jy sal bly” en “Kan nie langer wag nie”. Anneli van Rooyen se eerste album in drie jaar, Daar’s musiek, het naas die titelsnit ook die treffer “Dagbreek” bevat. Coenie de Villiers het vier jaar tevore laas ʼn album vrygestel; Hartland het die treffers “Die see by Paternoster”, “Solly en Ma” en “Kaneelverkoper” (saam met Lesley Rae Dowling) opgelewer.

rina-hugo

Rina Hugo. Foto: Musicians.co.za

Dit is ironies dat die oplewing in Afrikaanse musiek eers plaasgevind het omtrent tien jaar nadat Afrikaanse Treffers vir die laaste keer uitgesaai is. Aan die ander kant moet ʼn mens in gedagte hou dat die koms van gemeenskapsradiostasies in die 1990’s ook ʼn groot verskil gemaak het. Daar was nie meer noodwendig net een landwye radiostasie wat Afrikaanse musiek bevorder het nie en die feit dat gemeenskapsradiostasie soos paddastoele opgeskiet het, het aan opkomende kunstenaars die platform gebied wat hulle nodig gehad het.

Daarby het kunstefeeste soos die KKNK, Innibos en Aardklop ook in die 1990’s ontstaan en hulle die geleentheid gebied om voor groter gehore op te tree, al was dit hoofsaaklik op gratis verhoë. Hoe ook al, Afrikaanse Treffers het Afrikaanse musiek bevorder in ʼn tyd toe mense met reg daarop neergesien het. Dié program het egter ook die veranderinge wat deur die jare plaasgevind het, eerstehands beleef (by gebrek aan ʼn beter woord) en mense blootgestel aan enige nuwe Afrikaanse musiek wat in hierdie tyd vrygestel is.

Hoewel dit dalk nie meer heeltemal nodig is om Afrikaanse musiek op hierdie manier te bevorder nie omdat omtrent elke gemeenskapsradiostasie sy eie trefferslys het, wonder ʼn mens of ʼn soortgelyke program nie dalk ʼn goeie idee is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaycee ·

Dankie vir hierdie wonderlike rubriek. Die musiek laat mens se hart warm klop vir Afrikaans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.