Afrikaanse Treffers word 40 jaar oud

Edwill-van-Aarde

Edwill van Aarde was die aanbieder van musiekprogram, Afrikaanse Treffers. Foto: Verskaf.

Op 2 April 1975 is ʼn nuwe radioprogram wat Afrikaanse musiek sou bevorder, Afrikaanse treffers, vir die eerste keer op die SAUK se Afrikaanse radiodiens met Edwill van Aarde as aanbieder uitgesaai.

Elke week het Edwill sewe snitte gespeel, en die luisteraars moes dan hul gunstelinge kies. Elke jaar is daar ook ʼn Treffer van die Jaar deur die luisteraars aangewys.

Ongelukkig kon ek nie die lyste van die finaliste van elke jaar opspoor nie, maar ek het wel die lys van wenliedjies in die hande gekry. Daarom het ek besluit om elke wenliedjie in konteks te plaas en vas te stel of dit regtig elke jaar se grootste treffer was deur ook te kyk na ander musiek wat elke jaar vrygestel is. Selfs in daardie jare is baie Afrikaanse albums uitgereik en daarom kan ʼn mens net enkele hoogtepunte per jaar uitsonder. Aan die ander kant moet ʼn mens ook in gedagte gehou dat oud en jonk na Afrikaanse treffers geluister het en ʼn invloed op die uitslag van elke program kon hê.  Hierdie wenliedjies sal oor die volgende paar dae gepubliseer word:

1975: My sonnestraal – Herbie en Spence

Dit was sekerlik ʼn splinternuwe liedjie toe dit as Afrikaanse Treffers se eerste algehele wenner aangewys is. Dit was die Afrikaanse weergawe van Columbus se nr. 1-treffer Milky ways, wat op 31 Oktober 1975 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het.

Dit was trouens ʼn goeie jaar vir Afrikaanse musiek, met vier liedjies wat Springbok Radio se Top 20 gehaal het. Die eerste een wat dit reggekry het, was die Nederlandse sanger Heintje Simons se treffer Jou hart is weer myne, wat die sesde plek gehaal het. Dit was die enigste Afrikaanse liedjie deur ʼn buitelandse kunstenaar wat die Top 20 kon haal. Heintjie het ook twee ander treffers gehad wat wel nie die Top 20 gehaal het nie, maar redelik gewild was, naamlik Hei gaan jy weer en Ruiter van die windjie.

Sonja Herholdt het ook die sesde plek gehaal met Ek verlang na jou, wat deur Jan de Wet gekomponeer is en sekerlik ʼn sterk aanspraakmaker vir die liedjie van die jaar was. Daar was ook twee ander bestaande liedjies met Afrikaanse woorde wat wel op die Top 20 was, maar waarvan ʼn mens liewer sou wou vergeet. Caroline du Preez se Net soos ek die telefoon neersit het dieselfde week as Ek verlang na jou toegetree, maar net die sewentiende plek gehaal terwyl Tameletjie die negende plek met My klein witte duifie gehaal het. Dit was die Afrikaanse weergawes van onderskeidelik Conway Twitty en Loretta Lynn se As soon as I hang up the phone en George Baker Selection se Paloma blanca, albei nr. 1-treffers.

Nog ʼn groot treffer, wat weliswaar nie die Top 20 gehaal het nie, maar heelwat lugtyd gekry het, was die titelsnit van die Claude Larson-sangers se album Tuis.

https://youtu.be/IYrI8UyRbeI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.