Agt keer opstaan- Jasmyn

Agt keer opstaanTwee jaar gelede het die musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem van Jasmyn toe haar eerste album, Jy wens jy kon sê, uitgereik het. Nou is sy terug met Agt keer opstaan, wat al verlede jaar uitgereik is, maar nou regtig eers gewild word.

Die eerste snit vanaf die album, Winkelpop, stuur ‘n dudelike boodskap uit; liefde is spesiaal en moet beslis nie goedkoop gemaak word nie. Die titelsnit sal jou moed gee as jy dalk voel dat jy nie verder met die lewe kan voortgaan nie. Waldo Greeff het dit geskryf, en dit was seker die een liedjie wat tot dusver haar deurbraak was.  Catherine Jones het omtrent vyf jaar gelede tot die musiekbedryf toegetree en tot dusver nog net twee albums, een in Engels en een in Afrikaans, uitgereik. Sy het Leer om te vergewe te skryf, en hierin sê sy dat dit moeilik is om iemand wat jou teleurstel , maklik te vergewe, maar dat ‘n mens moet leer om dit te doen. Die mederegisseur van die album, Dirk van Niekerk, het Deur die vuur, saam met Waldo Greeff geskryf.  Haar boodskap is dat ‘n mens deur die moeilike tye van die lewe maar net moet vasbyt. In my is somer is deur Anton Botha geskryf, en dit is seker een van sy beste komposisies tot nog toe. Dit is ook seker die eerste snit op die album met ‘n Christelike strekking.  Tot ek daar kom is ‘n komposisie van Ferdinand Skead; dit is ‘n lekker snit wat beslis ‘n treffer kan word.  Catherine Jones se tweede bydrae tot hiedie album is Kettings breek; nog ‘n snit wat radiolugtyd verdien. Die eerste Engelse snit op die album, Dance of life, is ‘n komposisie van Waldo Greeff, en dit is ‘n pragtige snit met ‘n effense klassieke aanslag.

Die volgende snit het my asem weggeslaan toe ek dit die eerste keer gehoor het, en ek kan steeds nie genoeg daarvan kry nie. Hier binne my is die groot treffer vanaf die album, en die musiekvideo word gereeld op televisie gewys. Dit bewys dat ‘n Christelike liedjie nie ernstig of stemmig hoef te wees nie; die versoeking om daarop te dans, is te groot om te weerstaan. Welgedaan aan Jasmyn en Waldo Greeff wat dit geskryf het, en Dirk van Niekerk wat die regisseur was; julle het met ‘n wenner vorendag gekom! Met elke asem is Anton Botha se tweede bydrae tot die album, en weer eens is dit ‘n baie goeie komposisie wat jou lus maak vir dans. Tot hier toe bestaan die album uit niks anders as oorspronklike komposisies nie, maar met die volgende snit verander dit.  Anneli van Rooyen het byna dertig jaar gelede ‘n groot treffer met Ek lewe gehad. Sedertdien het verskeie kunstenaars dit al opgeneem, maar nie al die opnames was ewe goed nie. Jasmyn se weergawe is dalk die beste een tot nog toe, veral as gevolg van die uitstekende musiekverwerkings. Hierop bewys dat sy bekende- en oorspronklike liedjies ewe goed kan sing, en verdien om ook met ou treffers sukses te behaal.  Die laaste oorspronklike Engelse komposisie is The light, wat deur Jacques de Beer Strydom geskryf is; dit is ‘n baie mooi snit wat by ‘n groot gehoor byval sal vind. Jasmyn het vir ‘n verrassing gesorg deur Leona Lewis se groot treffer Footprints in the sand in te sluit. Haar weergawe is egter pragtig, en vergelyk baie goed met die oorspronklike een. Nog ‘n bekende snit wat sy ingesluit het, is Hierdie Kind van Jan de Wet, en die musiekverwerking van Johan Kelber is eenvoudig uitstekend. Dit laat jou sommer van voor af na ‘n byna oorbekende lied luister!   Die laaste snit op die album is Ek kan weer droom, ‘n Eurovision-komposisie met Afrikaanse lirieke. Gewoonlik is ek erg krities hieroor, maar dit is so ‘n lekker snit dat dit regtig nie ‘n probleem is nie.

Daar is seker min kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel wat so gemaklik oor grense in taal en musiekgenre kan beweeg, en op hierdie album bewys Jasmyn dat sy ewe maklik kommersiële- en Christelike musiek kan sing en dat sy ewe gemaklik met Afrikaanse- en Engelse liedjies is. Daarby weet sy ook hoe om ou bekende treffers nuwe lewe te gee.  Laat ek maar eerlik wees: hierdie album het my voete onder my uitgeslaan, en dit is sonder twyfel een van my gunsteling-albums van die afgelope jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

AmY ·

Dis nou een talentvolle meisie diê!!! Jasmyn, jy gaan nog ver kom. Jy is pragtig en talentvol xxx

Daantjie Dinamiet ·

Ek is mal oor hierdie album; ek kan nie wag om haar duetalbum saam met Hercules te hoor nie.Ek stem saam met alles wat jy van haar sê!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.