AIG kondig aan: Hiér is jou laaste kans om kaartjies te kry

afrikaans-is-groot-2018-pretoria-steve-hofmeyr

Steve Hofmeyr saam met Jay du Plessis, Ruhan du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld by Afrikaans is Groot 2018 in Pretoria. (Foto: Afrikaans is Groot/Instagram)

Die organiseerders van Afrikaans is Groot het Dinsdag aangekondig dat hulle ʼn plan beraam het vir die publiek om ʼn laaste kans te kry om kaartjies vir vanjaar se konsertreeks te kry.

Boonop sal dié kaartjies ook goedkoper aan die publiek gebied word.

Die AIG-konserte wat van 22 November tot 1 Desember in die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaasvind, se kaartjies is reeds vroeg-vroeg uitverkoop. Organiseerders het verlede week aangekondig dat hulle weens die oorweldigende belangstelling nog ʼn ekstra vertoning op 28 November bygevoeg het, maar kaartjies vir dié vertoning is sedertdien ook uitverkoop.

Nou is daar een laaste kans oor om AIG-kaartjies te kry. “Ons het soveel versoeke van die publiek ontvang wat nog kaartjies wou koop dat ons ʼn plan moes maak om nog beskikbaar te stel”,  het Johan C Venter, woordvoerder van AIG, gesê.

Ekstra kaartjies vir die vertoning op 28 November sal môre van 09:00 tot 18:00 teen 10%-afslag gekoop kan word, waarna die kaartjies na normale pryse sal terugkeer.

Ernst Vorster, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand, AIG se gemeenskapsvennoot en amptelike liefdadigheidbegunstigde, het in ʼn verklaring gesê die #JouAiG-veldtog wat in Maart bekendgestel is, het reeds vroegtydig sukses behaal. Daarom wou die organisasie dié sukses aan die publiek oordra deur ekstra kaartjies beskikbaar te stel, en boonop teen ʼn goedkoper prys.

“Ons hoofborg, die publiek, het gepraat! Kaartjiekopers wat reeds kaartjies teen ’n premium prys bekom het gaan op ’n besonderse wyse beloon word as hoofborg met ’n unieke ervaring vir hul bydrae. Terselfdertyd sal lede van die publiek wat nie kaartjies vir die ander AIG-vertonings wat reeds uitverkoop is kon bekom nie, nou weer ’n kans hê om kaartjies te koop,” het Vorster gesê.

Laurika Rauch is vanjaar weer deel van die Afrikaans is Groot-konsertreeks.

Helpende Hand het die #JouAiG-veldtog bekendgestel ná die onttrekking van korporatiewe borge om die voortbestaan van AIG te verseker. Deur dié veldtog is die publiek as “hoofborg” aangewys, en is die publiek as individue, groepe of besighede die geleentheid gebied om as ’n amptelike hoofborg van dié konsert in te tree.

Johan C Venter, woordvoerder van AIG, het vandag bevestig dat die kaartjiekopers wat reeds kaartjies gekoop het vir die #JouAiG-vertonings teen die premiumprys, sal spesifiek geëer word as hoofborge gedurende die aand van die vertoning. Hierdie hoofborge sal almal eerste toegang tot die arena verkry; hul gesigte sal deel vorm van die AIG-handelsmerk wat op ’n kreatiewe wys ten toon gestel gaan word, hul gaan bederf word met nuwe AIG-produkte asook met ’n unieke program vir die aand en, hulle sal ook op die skerms genoem word en bedank word as hoofborge van AIG.

Organiseerders het reeds verlede week aangekondig dat Laurika Rauch en Elandré ook deel vorm van die konserte. Talle ander bekende kunstenaars sal saam met hulle op die verhoog te sien wees, insluitend Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Corlea, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Elvis Blue, Demi Lee Moore en Bok van Blerk om net ʼn paar te noem.

Volgens Vorster het die dinamiek in die aanbieding van die AIG-konserte met insette van die publiek ’n drastiese verskil gemaak sedert die bekendstelling van die #JouAiG-veldtog. “Danksy die gemeenskapskrag van die Afrikaanse publiek en die korporatiewe sektor kon ons hierdie skat van ons kultuur bewaar,” het Vorster gesê.

Die publiek is weer eens gewaarsku om versigtig te wees vir derde party kaartjieverkopers.

Kaartjies vir die geleentheid kan van môre om 09:00 hiér bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DD ·

Waar gaan al die mense nou ewe skielik ingedruk word? Mens sit maar partykeer lekker beknop…

Darius ·

Niemand word ingedruk nie. ‘n hele nuwe konsert is geskep om almal te akkomodeer wat nie kaartjies kon kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.