Aitsa-musiektoekennings is terug

Die Aitsa-toekennings in 2019. (Foto: Verskaf)

Die Aitsa Trust het pas bekend gemaak dat die Aitsa-musiektoekenningsgeleentheid in ʼn aangepaste formaat vir 2020-’21 sal voortgaan, nadat verlede jaar se geleentheid weens inperkingsregulasies uitgestel moes word.

Die Aitsa-toekennings is geskep met die doel om ʼn onafhanklike geleentheid te skep waartydens die room van die rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hulle uitmuntende prestasie beloon kan word.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van die Pretoria FM Direksie en trustee van die Aitsa Trust, sê daar is besluit om die Aitsa-toekennings vanjaar weer aan te bied ná die reusesukses van die eerste geleentheid in Oktober 2019.

“Ons het besluit om ʼn paar aanpassings te maak, maar om vanjaar, in samewerking met Pretoria FM, daarmee voort te gaan. Dit is belangrik om hoop te skep te midde van die moeilike omstandighede waarin kunstenaars hulle tans bevind as gevolg die inperkings en verbod op geleenthede om op te tree en ʼn inkomste te verdien.”

Afrikaanse kunstenaars, liriekskrywers en vervaardigers van musiekproduksies sal vanjaar in 12 kategorieë kan inskryf.

Die Aitsa-toekenning. (Foto: Verskaf)

Kunstenaars kan self inskryf of kan deur hul onderskeie platemaatskappye ingeskryf word.

Die inskrywings sal deur ʼn paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel word en ʼn maksimum van ses finaliste sal in elke kategorie aangewys word.

Altesaam 12 programme, een vir elke kategorie, sal vanaf September weekliks gelyktydig op radio en op sosiale platforms uitgesaai word en die publiek sal die geleentheid kry om vir hulle gunsteling-kunstenaars te stem.

Die wenners sal op 1 Desember tydens ʼn spesiale geleentheid bekend gemaak word en dit sal ook regstreeks op radio en sosiale platforms wêreldwyd uitgesaai word.

Die spesiale trofee wat vir die Aitsas ontwerp is, sal weer op die spel wees.

Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede sal binnekort op Pretoria FM se webtuiste beskikbaar wees.

Inskrywings vir alle kategorieë open op Maandag 19 Julie en inskrywings sluit om middernag op Vrydag 6 Augustus. Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2019 tot 31 Maart 2021 sal in aanmerking kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
MakersMark

Aitsa gelukkig gaan ek dit mis…..