Aitsa-musiektoekennings weer vanjaar uitgedeel

Elandré is verlede jaar met twee beeldjies vereer. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.)

Die tweede jaarlikse Aitsa-toekenningsgeleentheid vind vanjaar op 15 Oktober plaas. Dié nuus is Dinsdag in ʼn verklaring deur Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van Pretoria FM, bekend gemaak.

Die eerste Aitsa-toekenningsgeleentheid wat verlede jaar by die Moreletapark-ouditorium in die ooste van Pretoria gehou is, is deur meer as 4 700 mense bygewoon.

“Dit word allerweë beskou as die grootste funksie van sy soort wat nog aangebied is,” het Koortzen gesê.

“Op grond van die reusesukses en uitstekende terugvoer van platemaatskappye, kunstenaars en die publiek na aanleiding van verlede jaar se geleentheid wat deur Pretoria FM in samewerking met die grootste platemaatskappye van stapel gestuur is, het die organiseerders van die Aitsa-toekennings besluit om daarop voort te bou en van vanjaar se geleentheid ʼn nog meer besonderse skouspel te maak.”

Die toekennings, wat Afrikaanse kunstenaars, produksies en lirieke van hoogstaande gehalte vereer, sal weer gepaardgaan met ʼn vertoning van wêreldgehalte waarby die land se beste Afrikaanse kunstenaars betrek gaan word.

Die unieke trofeë wat deur die bekende beeldhouer, Francois Visser, ontwerp is en vervaardig word, sal soos verlede jaar aan die wenners oorhandig word.

“Die vernaamste doel van Aitsa bly steeds om deurlopende harde en uitstaande werk op musikale vlak in ons pragtige taal, Afrikaans, te beloon en te vereer,” het Koortzen bygevoeg.

Meer besonderhede oor die lokaal, kaartjieverkope en datums vir inskrywings sal binnekort bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Fantasties!! ons is trots op julle Pretoria FM en natuurlik op ons kunstenaars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.