Aitsa-toekennings kondig nuwe kategorie aan

Willie Spies op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

Inskrywings vir die Aitsa Afrikaanse musiektoekennings stroom steeds in, en kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers word uitgenooi om nog in te skryf tot en met middernag op Maandag 13 Mei.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust, sê die Aitsa-toekennings het in die verlede groot belangstelling uitgelok, en hulle bou voort op die suksesresep van die vorige jare.

“Ons hoop om vanjaar weer die rekords te oortref wat inskrywings betref,” sê Spies.

Vanjaar is ʼn splinternuwe kategorie geskep vir ballade van die jaar. Afrikaanse ballades is ʼn unieke dog uiters gewilde genre van Afrikaanse musiek en spesifiek ook by Pretoria FM.

Hierdie musiek verteenwoordig ʼn baie besondere kunsvorm wat musiek met Afrikaanse digkuns kombineer. Die nalatenskap van legendes soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Jannie du Toit en vele ander leef voort in hierdie genre.

“Dikwels haal musiek in hierdie genre nie die meeste stromings of luistersyfers nie, maar die besondere gehalte daarvan noodsaak behoorlike erkenning by wyse van ʼn spesiale Aitsa-kategorie.”

Die Aitsa-toekenning. (Foto: Verskaf)

Spies sê verder hulle ervaring is dat die kategorie vir kontemporêre liedjie van die jaar gewoonlik talle inskrywings vanuit uiteenlopende genres lok wat dikwels moeilik vergelykbaar met mekaar is, en dit kan daartoe lei dat unieke genres nie tot eie reg kom nie.

“Ons ervaring uit terugvoer was egter dat verskeie platemaatskappye en kunstenaars steeds die behoefte voel om in ʼn algemene “kontemporêre liedjie van die jaar”-kategorie in te skryf. Daarom is hierdie kategorie weer ingestel sodat inskrywings spesifiek in hierdie kategorie ook ingestuur kan word,” voeg Spies by.

“Ons is opgewonde om bekend te maak dat die Aitsas vanjaar dus beide genres sal akkommodeer deur inskrywings vir ballade van die jaar asook kontemporêre liedjie van die jaar te verwelkom.”

Die nodige aanpassing is aan die inskrywingsvorm gemaak en is beskikbaar op Pretoria FM se webwerf.

Die Aitsa-toekenningsgeleentheid vind hierdie jaar plaas op 18 September by die 3Ci Ouditorium, en die publiek word ook uitgenooi om die geleentheid by te woon.

Kaartjies is reeds by iTickets beskikbaar. ʼn Beperkte getal van 500 kaartjies is vir ʼn verminderde bedrag van R150 per kaartjie beskikbaar, en hierdie kaartjies is reeds byna uitverkoop.

Die oorblywende kaartjies sal teen die normale tarief van R250 te koop wees.

“Ons is opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse musiek en daarmee saam die uitbreiding van kategorieë om die room in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hul uitmuntende prestasies te beloon,” sluit Spies af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.