AJ van der Mescht terug met nuwe album

AJ-van-der-Mescht

AJ van der Mescht. Foto: Facebook.

Hoewel AJ van der Mescht nog nie heeltemal so bekend onder Suid-Afrikaanse musiekliefehbbers is nie, is hy glad nie ’n nuweling op die musiektoneel nie.

Hy was die hoofsanger van die groep Stompdraai, wat in 2009 die album Joune uitgereik het, maar sedert 2011 doen hy sy eie ding.

Sy saamsingtreffer “Sê wat jy wil sê” is nou al lank op RSG se speellys, maar dit het nou tyd geword om ’n nuwe album uit te reik.  AJ se tweede solo-album, Maak oop jou deur, bestaan uit 18 snitte, waarvan hy sewe geskryf het. Die enigste snit op die album wat nie oorspronklik is nie, is sy weergawe van Tom Petty se groot treffer, “Free Fallin’”.

Benewens die titelsnit is “Vat my”, “Ek mis jou”, “Sewe seisoene” en “Een uit ’n miljoen” sy eie komposisies. Nog liedjieskrywers wat bydraes gelewer het, is Cornel de Beer en Christoph Kotze. Rudi Massyn het die vervaardiging van die meeste snitte op die album behartig.

Die album is gevul met polsende pop-rock, en dit vind ’n soort goue middeweg tussen robuuste rock en die ligte, kommersiële pop-klank wat tans so gewild is.

Volgens AJ hou hy van liedjies wat iets kan vertel; hy wil nie net op die verhoog staan en  niksseggende lirieke sing nie.

Hy het op ’n plaas naby Rustenburg grootgeword en hy was hoofseun van die plaasskool waar hy skoolgegaan het. Dit was altyd duidelik dat sy gehoor groter sou wees as die klein groepie kinders wat saam met hom op skool was.

Met hierdie soort deursettingsvermoë is dit net ’n kwessie van tyd voordat al hoe meer radiostasies sy musiek sal begin speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.