Akademia kry wêreldbekende koordirigent

Franco Prinsloo,eerste koordirigent van die Akademia-koor, staan reg om ‘n topgehalte koor op die been te bring. (Foto: Voxchamberchoir.com)

In koorkringe sal die naam Franco Prinsloo beslis ʼn klokkie lui. Hy is onlangs aangestel as koordirigent vir Akademia se splinternuwe koor wat binnekort ʼn werklikheid word.

Prinsloo, die bekroonde komponis en dirigent, is van laerskool af betrokke by verskeie kore. Hy het na skool musiek by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus studeer en het ook by die Puk-koor betrokke geraak waarna hy sy koorvlerke na Pretoria gesprei het. In 2017 het hy die Vox Chamber Choir gestig wat reeds vyf albums uitgereik het en verskeie prestasies bereik het. Hy is ook te sien as aanbieder van lesings by internasionale koorkongresse en -feeste.

Hy is geweldig opgewonde om hierdie rol by Akademia te vervul en beskou dit as ʼn ongelooflike eer om die amptelike koordirigent van die instelling se heel eerste koor te wees.

“Ek sien baie uit na die spesiale en kunssinnige oomblikke wat ons koor saam gaan beleef. Daar is iets ongelooflik wat gebeur wanneer ʼn groep mense saamkom om een doelwit te bevorder: die skep van skoonheid en betekenis.”

Prinsloo glo dit is uiters belangrik vir ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia om ʼn koor te hê. “’n Koor bied aan studente ʼn veilige gemeenskap waarbinne hulle hulself musikaal ten volle kan uitleef. Musiek raak deel van jou wese en dit skaaf en vorm jou.”

Volgens dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia, is koorsang een van die aktiwiteite waaraan studente kan deelneem as deel van dié unieke studente-ervaring by die instelling.

“Koorsang bied ontspanning en sosialisering, maar ontwikkel ook selfdissipline en bevorder intellektuele ontwikkeling. Boonop ontgin jy jou talente op ʼn heerlike manier. Ons is opgewonde oor dié aanstelling. Prinsloo is beslis een van die beste dirigente in die land.

“Hierdie droom van ʼn wêreldklas-Akademia-koor is een van die hartprojekte van ons besturende direkteur, Marthinus Visser, en ook een van myne. Dié koor gaan nog baie vreugde aan die publiek verskaf. Wat die koor uniek maak, is dat personeel- en studentestemme saamgesnoer gaan word om talle gehore se hartsnare met optredes aan te raak,” voeg Muller by.

Prinsloo se visie vir dié koor is om ʼn gemeenskap te skep waar sangers hulself vrylik, gemaklik en met passie kan uitleef. “Die koor moet ʼn tuiste bied waar studente, sáám met die ander liefhebbers van koorsang, ten volle hulself as mens kan uitleef en dit op ʼn passievolle manier met ander kan deel.”

Hy glo dat die koor een van hoogstaande gehalte sal wees wat altyd in diens van musiek sal staan.

Daar word druk beplan aan onvergeetlike musikale ervaringe, sosiale aktiwiteite en natuurlik pragtige musiek.

“Kooroudisies skop binnekort af en die publiek kan uitsien na ʼn koor wat by allerlei seremonies en geleenthede gaan optree om Akademia se naam om hoog te hou”, sê Muller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karinb ·

Veels geluk aan Akademia en Franco Prinsloo met dié puik inisiatief. Ek sien uit daarna om goeie en mooi dinge oor julle te lees en te hoor. Sterkte en sukses vir die toekoms!

Esme ·

Akademia, jou doring! Baie geluk Franco! Alle sukses met jou groot drome. Ons gaan jou vooruitgang beslis volg!

ABDP ·

Veels geluk. Julle het verseker die juweel van koorsang gekry. Hy maak alles wat skeef en krom is reg met musiek. Was ‘n voorreg om onder sy begeleiding in serenades te kon sing en ook as wenners te kon weg stap. Geluk Franco! Mag jou musiek in sterre verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.