Albert de Wet terug met ’n album na drie jaar

Albert-de-Wet-Yswarm

Albert de Wet is terug met ‘n splinternuwe album, Yswarm. Foto: Albert de Wet se Facebookblad.

Drie jaar nadat sy laaste album, Bang vir die donker, verskyn het, is Albert de Wet terug met ʼn nuwe album.

Albert het omtrent tien jaar gelede tot die musiektoneel toegetree met sy album Dagboek van ʼn dromer.  Vier verdere albums het gevolg en onder sy treffers was 7de Laan, Wat het gebeur by Aliwal-Noord, Bakgat (saam met Quentin Prinsloo), Highway to your heart en Lyf.

Albert se nuwe album, Yswarm, bevat ʼn aantal van sy treffers, asook vier nuwe snitte.  Die eerste enkelsnit, Heildronk, is reeds ʼn treffer op sommige radiostasies.  Anders as met sy vorige albums het Albert vir die eerste keer die insette van ander liedjieskrywers verwelkom.  Hy het onder meer saam met Johan Oberholzer gewerk, asook die vervaardiger Murray Lubbe en hulle toegelaat om vrye teuels aan hul kreatiwiteit te gee.  Die ander nuwe snitte op die album is die titelsnit, Daaroor hieroor hoekom en Roadtrip na jou hart.

Johan is ʼn uiters ervare en suksesvolle liedjieskrywer, en hy het die titelsnit van die album geskryf.  Die idee met hierdie liedjie was juis om ruimte vir kreatiwiteit te skep deur die onderwerp op kontraste te baseer.  Albert skryf in elk geval nie elke liedjie in dieselfde genre nie; dit hang af hoe hy voel.

Op Heildronk sê hy dat dit die moeite werd is om soms net die glasie op die liefde te klink, en dronk raak op die liefde alleen wanneer die glasie leeg is.  Die musiekvideo van hierdie snit is hieronder te sien.  Johan het Daaroor hieroor hoekom geskryf, terwyl Albert saam met El-Ben Schutte vir Roadtrip na jou hart verantwoordelik was.

Onder Albert se vorige treffers wat op die album voorkom, is 7de Laan, Bang vir die donker, Bietjie van jou en Die vensters na my siel.

Kyk hieronder na die musiekvideo van die liedjie, Heildronk:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.