Albumbekendstelling: ‘Pure Coenie’  

Album_COVER_PureCoenie-f-002.jpgDie uitreiking van ʼn album van Coenie de Villiers is altyd ʼn gebeurtenis, en Pure Coenie is geen uitsondering nie. Hierdie is sy 21ste album en die uitreiking word gevier met twee bekendstellingskonserte in die Atterbury-teater in Pretoria.

Met dié album keer Coenie weer terug na sy wortels as liedjieskrywer, na daardie eerlikheid van dekades gelede. “Ek wou liedjies skryf wat volkome eerlik en trou aan myself is,” sê hy.

Die musiek en lirieke van 13 van die 14 liedjies in dié album is sý werk. “As skrywer en musikant is daar geen kompromis in hierdie album nie,” vertel Coenie. “Ons het nie ʼn enkele kortpad gekies nie – en die album is geheel en al baby-baby-vry!”

Dit is voorwaar ʼn album vol verrassings. Op ʼn vreemde manier word die liedjies deur ʼn eenvormige klank saamgesnoer, en tog is hulle uiteenlopend wat inhoud betref. Dit is ʼn persoonlike album wat na binne kyk. “Ek is nou ouer, en ek probeer om ónder die vel in te skryf,” sê hy.

Coenie het ook ander talent betrek en ʼn groot verrassing is die snit opgeneem saam met die talentvolle jong musikante Joshua na die Reën, Brandon October en Leon Gropp. Rocker Francois van Coke sluit by Coenie aan vir ʼn volkome “live and unplugged” weergawe van die tydlose treffer “Hillbrow” deur Johannes Kerkorrel. Daar is ook ʼn bonussnit saam met Van Coke, “Tatoe”.

Nog ʼn kragtige stem wat gehoor kan word, is dié van Vicky Samson. Selfs die legendariese akteur John Kani kan in dié album gehoor word.

Pure Coenie is ʼn grensverskuiwende album. Dis ʼn album wat verteenwoordigend is van die breë samelewing, en ʼn album wat dit doen met ʼn vaardigheid, passie en oorgawe wat selde in ons land gehoor word.

Die konsert in die Atterbury-teater is op 14 en 15 Junie. Kitaar-maestro Mauritz Lotz sluit aan op die verhoog asook Brandon October en Leon Gropp. Die konsert word aangevul deur oudiovisuele materiaal deur Loui Griebenow. Die CD sal ook te koop beskikbaar wees.

Vir nog inligting besoek Atterbury-teater.   

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.