Alles Afrikaans: Die wêreld se grootste treffers in jou taal

Alles Afrikaans

In die 1970’s het dit gereeld gebeur dat internasionale treffers in Afrikaans vertaal is, en self ook treffers geword het; voorbeelde hiervan is Paloma blanca, Heaven is my woman’s love en As soon as I hang up the phone, wat Springbok Radio se Top 20 gehaal het as My kleine witte duifie, Liefde is my nooi se naam en Net soos ek die telefoon neersit.

Nou is daar ‘n nuwe CD vrygestel, waarop hedendaagse treffers in Afrikaans gesing word. Alles Afrikaans bevat liedjies wat onlangs treffers was, maar waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is. Die eerste een is Lady Antebellum se Need you now, wat as Ek moet jou hê deur Veronique en Christiaan Kritzinger gesing word. Dit klink nie sleg nie, en selfs al is die woorde baie soortgelyk aan die oorspronklike een, klink dit nie sleg nie. Veronique sing ook die volgende snit; Net liefde, wat die Afrikaanse weergawe van Pink en Lily Allen se True love. Weer eens klink dit beter as wat ‘n mens verwag het. “Dit moet wees liefde” is egter ‘n Anglisisme. Sonskyn is die Afrikaanse weergawe van Maroon 5 se Daylight, en dit word in Afrikaans deur Christiaan Kritzinger, wat die projekleier was, en natuurlik al self twee Afrikaanse albums vrygestel het. Een van die grootste treffers van 2013 was Philip Philips se Gone gone gone, wat in Afrikaans deur Rian Swanepoel gesing is. Die woorde is weer eens baie getrou aan die oorspronklike weergawe, en klink nogal goed. Nog ‘n groot treffer was Pink en Nate Ruess se Just give me a reason, en Chrisna de Bruin en Ferdinand Buffel sing dit hier saam.

Rihanna se treffer Stay word deur Chrisna de Bruin en Christiaan Kritzinger gesing. Taylor Swift se 22, gesing deur Vernonique gesing, en sy noem dit Twee en twintig. Avici het ‘n groot treffer met Wake me up gehad, en Rian Swanepoel se weergawe staan bekend as Maak my wakker, en dis jammer dat die woord “oor” pleks van “verby” gebruik is. Nogtans is dit ‘n goeie snit. Twee van vandag se gewildste dansliedjies is volgende. Dowwe lyne is Rian Swanepoel se weergawe van Robin Thicke en Pharrell Williams se Blurred lines, en hier moet ‘n mens melding maak van Riaan se falsetto-sang. Die ander een is Daft Punk se Get lucky, wat deur Thiart Li as Vir ‘n kuier gesing word.Chrisna de Bruin en Christiaan Kritzinger sing Emeli Sande se Benath you’re beautiful, wat hulle Jou skoonheid noem.

Nog ‘n baie groot treffer wat hier ingesluit is, is Passenger se Let her go; Johan Fourie sing dit in Afrikaans en noem dit Laat haar gaan. Kom en kry dit is Veronique se Afrikaanse weergawe van Come and get it van Selena Gomez, en weer eens klink dit baie goed. I knew you were trouble van Taylor Swift word in Afrikaans deur Monique gesing onder die titel Moeilikheid. Maak jou skaars, die Afrikaanse weergawe van Dia Frampton se treffer Walk away, en weer eens klink dit goed. One Direction het op die oomblik ‘n treffer met Best song ever, wat in Afrikaans deur Riaan Swanepoel as Grootste liedjie gesing word. Die laaste snit is Solank jy my liefhet, Johan Fourie se Afrikaanse vertaling van Justin Bieber se As you long as you love me.

Om eerlik te wees: toe ek hierdie CD ontvang het, was ek gereed om dit ‘n uiters swak resensie te gee. Gewoonlik is vertalings van bekende liedjies nie bevorderlik vir Afrikaanse musiek nie, en die vertalings wat verskyn het in die era voordat die Musiek-en-Liriek-beweging die geskiedenis van Afrikaanse musiek verander het, het Afrikaanse musiek ‘n slegte naam gegee. Dieselfde geld sekere parodieë van bekende liedjies, soos Rea le Roux se Ek’s gatvol vir huis skoonmaak, op die wysie van Miley Cyrus se Wrecking ball.

Aan die ander kant was hierdie album vir my ‘n verrassing; die lirieke klink beter as wat ek verwag het en die musikale verwerkings is baie goed. Dit sal die jongmense wat nog steeds hul neuse optrek vir Afrikaanse musiek (is daar nog van hulle?) met nuwe ore na hul gunstelingtreffers laat luister, en hoewel musiek-puritste dalk niks hiervan sal hou nie, behoort dit gewild te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Werner. Kemp ·

Goeiemore leser. Ek wil graag hoor of u dalk weet waar ek die plaat opnames op cds’s kan aanskaf van 3. Vergete Sangers wat pragfrtige musiek gemaak het op hul tyd. Hulle is Francois Hayes, Chris le Roux wat Hantamberge gesing het, en Ruben Lennox. Ek so bly wees as. U my kan help, met adresse of e-poss adresse waar ek kan aanklop. Groetnis Werner Kemp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.