Als wat ek het- Robbie Wessels

 

Als wat ek hetIn 2005 het die Suid-Afrikaanse musiebedryf vir die eerste keer van Robbie Wessels kennis geneem toe hy sy debuut as sanger gemaak het nadat hy in die komediereeks Gauteng-a-leng-leng te sien was.

Sedertdien het hy vier albums die lig laat sien en was hy ook in verskeie rolprente te sien. Nou is hy, na ‘n redelike lang stilte, terug met sy nuwe album, Als wat ek het. Die eerste snit op die album, wat ook die eerste treffersnit is, is ‘n tipiese Robbie Wessels-liedjie, naamlik All Blacks teen die All Blacks. Hierin maak hy ten sterkste beswaar teen die kwotastelsel in Suid-Afrikaanse rugby asook die verandering van die straatname in Pretoria. Daar is ongelukkig ‘n paar klragwoorde in hiedie liedjie en ‘n mens wonder hoeveel radiostasies sal dit vir hul speellyste goedkeur.

Nog ‘n humoristiese snit is die volgende een, Gym of all nations. In Floyd Mc Clung sing hy van ‘n Amerikaanse jagter wat in die Bosveld kom jag.Daar is toevallig ‘n Amerikaanse evangelis met dieselfde naam en van.  Robbie kan egter nie net humoristiese liedjies sing en stories vertel nie; op die titelsnit kom ‘n mens agter dat hy ook ernstig kan wees. Hierop sê hy dat geld nie al is wat in die lewe saakmaak nie. Nog ‘n snit met meer om die lyf as wat ‘n mens gewoonlik van Robbie verwag, is As die liefde voor jou staan. Krummel en Baksteen is ‘n lekker snit waarin hy sing van twee vriende wat daarvan hou om kattekwaad aan te vang, maar op die ou einde in ‘n bakleiery betrokke raak. Met Somerliefde hoor ‘n mens weer Robbie se dieper kant; dit is trouens een van die beste snitte op die album. Nog ‘n mooi snit wat radiolugtyd verdien, is Iets bekends. Op Chaklie en Jamanzi sing Robbie van ‘n tweeling wat tydens ‘n marathon-wedloop kul deur mekaar af te los maar op die ou einde uitgevang word. Tuks of niks sal sekerlik gewild word onder die studente van die Universiteit van Pretoria; en dit sal seker voortaan gereeld tydens die Varsitybeker-rugbykompetisie gespeel word. Strale van die son is een van die bste snitte van die album; weer eens wys Robbie dat hy nie noodwendig net oppervlakkig is nie. Gedig oor Agulhas is dalk nie treffermateriaal nie, en dit is ‘n jammerte omdat dit regtig ‘n besonder mooi snit is.  Onthou jy nog is ‘n lekker nostalgiese snit  oor rugby, geskiedenis en sommer enigiets anders ook. Robbie sê egter dat ‘n mens nie net aan die verlede moet vasklou nie, maar ook vorentoe moet kyk. Die laaste snit, Middernagkitare, is ook iets besonders, want dit is net Robbie en sy kitaar sonder enige foefies of fieterjasies.

Op hierdie album sien ‘n mens weer Robbie se twee kante; aan die een kant is hy nog net so “stout” soos altyd en sal daar altyd diegene wees wat wil hê dat hy niks anders as humoristiese liedjies behoort te sing nie. Dis egter goed dat ‘n mens ook sy ander kant sien, en dat hy al hoe meer “diep” liedjies skryf en by sy albums insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Tinus Prinsloo ·

Baie dankie aan verskeie jong opkomende kunstenaars wat EG Suid-Afrikaans is!! Dankie vir Afrikaans wat hul gebruik om verskeie aspekte te beklemtoon en nie skaam is vir hul taal nie. Laat ons met trots na ons Jongmense kyk en hul aanmoedig om slegs hul beste vir Afrikaans te lewer!!

Dankie Robbie vir kreatiwiteit en openheid tesame met ‘n trots vir Volk en Vaderland!!

Mooi so!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.