‘ALTEmit a capella’ ʼn gesellige teaterervaring

Hilandi du Toit, Olga Leonard, Babette Viljoen en Grethe van der Merwe. (Foto: Victor Sguassero)

Babette Viljoen, Olga Leonard, Hilandi du Toit en Grethe van der Merwe, liedjieskrywers en musikante in eie reg, se vier smeulende altstemme is vanjaar op die US Woordfees op Stellenbosch te hoor in die produksie ALTEmit a capella.

Musiek uit hul eie penne, immergroen treffers met ’n kinkel en ’n Afrika-werk of twee kry nuwe lewe met vindingryke verwerkings.

“Almal van ons is al baie lank in die bedryf en skryf ook al lank ons eie musiek. Daarom het ons besluit om ons oorspronklike komposisies ten toon te stel tydens die vertoning, al is die liedjies nie noodwendig spesifiek vir die produksie geskryf nie,” sê Leonard.

Leonard, wat saam met Viljoen en Du Toit deel uitgemaak het van die KROG-trio wat die bekende digter Antjie Krog se gedigte getoonset en uitgevoer het, is in 2018 vereer met die gesogte Aardklop-toekenning vir beste musiekgedrewe produksie. Die trio is ook vir ʼn Fiësta-toekenning benoem.

“Ons het seker gemaak die vertoning handhaaf ʼn lekker balans tussen ballades, meer ritmiese musiek, oorspronklike komposisies en nuwe weergawes van ou bekende treffers, soos ‘Voshaarnooi’ en ‘Walk me home’,” voeg sy by.

Hoewel Leonard, Viljoen en Du Toit beroepsmusikante is, is Van der Merwe die enigste een wat in die sakewêreld werk.

“Ons stuur die stukke vooraf vir mekaar sodat elkeen op sy eie stoom die liedjies kan aanleer. Dan kom ons een keer per week bymekaar om te skaaf aan die liedjies tot ons daarmee tevrede is.”

Die musiek word deur die groep self verwerk vir altstemme en perkussie, en die dialoog tussen die musiek is ontspanne en in ʼn ligte luim.

“Ons wil graag hê die gehoor moet voel hulle kuier saam met ons. Ons vertel staaltjies oor mekaar en maak grappe oor mekaar en alles is in goeie gees. Ek glo werklik ALTEmit het die potensiaal om enige gehoor tevrede te stel.”

ALTEmit a capella is op 6, 8 en 14 Maart te sien in die Drostdy-teater op die US Woordfees. Kaartjies kos tussen R140 en R160 deur Computicket en R180 by die deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae