Alternatief is Groot ‘is die nuwe jool’

Francois van Coke (Foto: Andre Badenhorst/Instagram)

Studente in Pretoria wat teleurgesteld is dat hulle nooit die destydse jool in volle glorie kon ervaar nie, kan hulself nou gereedmaak vir ’n reusebederf met Alternatief is Groot wat vanjaar die lig sien.

Dié produksie gaan aan studente en liefhebbers van alternatiewe musiek die geleentheid gee om die nuwe jaar behoorlik te vier.

Die vervaardigers van die gesogte Afrikaans is Groot-konserte en soortgelyke produksies bied vir die eerste keer Alternatief is Groot op Saterdag 16 Februarie aan. Dit sal op Loftus se D-veld, net ná afloop van die Superrugby-kragmeting tussen die Bulls en die Stormers, plaasvind.

“Ons dink daar is onder aanhangers van dié musiek-genre ’n groot behoefte vir ’n produksie van uitstaande gehalte. Verder wil ons, as maatskappy wat gehalte-konserte aanbied, ook aan alternatiewe kunstenaars ’n platform bied om hul staal te wys. Ons wil ook aan studente in die omgewing – veral ná die stille uitsterf van Tuks se jool – ʼn lekker partytjie bied om die jaar behoorlik af te skop,” het Arnold Coleske, uitvoerende vervaardiger van die konsert gesê.

Van die grootste musiekmakers in die alternatiewe mark gaan almal saam op een verhoog wees en konsertgangers kan uitsien na kunstenaars soos  Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Jan Blohm, Early B, Sunset Sweatshop, Straatligkinders en Jack Parow.

“Dit is lekker dat Alternatief is Groot weer jool na Pretoria bring! Te lank was Potch die enigste jooljol. Let’s go Pretoria!” het Pierre Greef van Die Heuwels Fantasties laat hoor.

Soveel as 1 000 kaartjies word as Early Bird-kaartjies teen R120 beskikbaar gestel. Daarna kos kaartjies R195 per persoon. Vir diegene wat ook na die rugbywedstryd tussen die Bulls en Stormers wil kyk, is daar ’n Gig & Game-kaartjie teen R245 by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.