‘Alternatief is Groot’ vereer genre

Alternatief-is-GrootColeske Artists het ʼn versameling uitsonderlike liedjies uit die Suid-Afrikaanse alternatiewe musiek-genre op een dubbel-album, Alternatief is Groot, vrygestel om dié genre te huldig.

Pierre Greeff, hoofsanger van die musiekgroep, Die Heuwels Fantasties, het die album saamgestel. “Ek en Hunter (Kennedy, ook van dié groep) het met die idee vorendag gekom om ʼn versameling van ou en nuwe alternatiewe- en rock-liedjies saam te stel, in samewerking met Coleske Artists,” vertel Pierre.

“Baie van dié liedjies se oorspronklike albums word nie meer gedruk nie of is nie meer in die winkels beskikbaar nie en om dit digitaal te bekom, is ook moeilik,” vertel hy verder. “Alternatiewe musiek is al lankal deel van ons Africana, langer as tien jaar en daarom wou ons ʼn ordentlike terugblik doen.”

Luisteraars kan ʼn nostalgiese reis onderneem met legendariese liedjies waaruit dié genre gespruit het, soos “Hillbrow” deur Johannes Kerkorrel en “Johnny is nie dood nie” deur Koos Kombuis, of luister na huidige treffers soos “Toe vind ek jou”, deur Francois van Coke en Karen Zoid.

Ander liedjies wat rock-aanhangers sal geniet is liedjies soos “Africa” deur Wonderboom, “Eyeshadow” deur Valiant Swart en “Against all Odds” deur AKING.

Om jou in ʼn partytjie-bui te kry is daar ook treffers soos “Pretoria Girls” deur Desmond and the Tutu’s en “Come with me now” deur The Kongos.

Ballades soos “Groen Trui” deur Jan Blohm en “Blue Eyes” deur Springbok Nude Girls is ook op dié album.

Die lys gaan van krag tot krag met kunstenaars soos Bittereinder, Bouwer Bosch, Van Coke Kartel, Loki Rothman en Pierre Greeff, Laudo Liebenberg, Twee, Nagligte, Gazelle, Straagligkinders, Albert Frost, Die Ryno Velvet Band, Lukraaketaar, Klopjag en Die Tuindwergies.

“Ons enigste kriteria was of die liedjie ʼn groot treffer was en of dit ʼn goeie liedjie is. Daarom het dit organies gebeur dat Afrikaanse liedjies en Engelse treffers van dié genre op die album verskyn,” sê Pierre.

En die teikenmark? “Enigiemand met goeie musieksmaak, dis so eenvoudig soos dit,” lag hy.

Hier is die video vir “Sy” deur Die Heuwels Fantasties, wat ook op die album verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

Ek wens almal wat so sokkie treffers luister kan na dit luister. Hopelik sal hulle dan besef wat hulle mis. Dit is musiek, nie die gemors wat op radio gespeel word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.