Alternatief was inderdaad groot in 2019

Vanjaar was ʼn groot jaar op die alternatiewe Afrikaanse musiekfront. Gevestigde kunstenaars soos Francois van Coke en Spoegwolf het aanhangers tevrede gestel met nuwe vrystellings terwyl ʼn hele paar nuwelinge, soos Biggy en Tasché, die musiekbedryf betree het.

Die Heuwels Fantasties

Die Heuwels Fantasties lui die Desembervakansie in met ʼn paar nuwe snitte wat volgende jaar op hul nuwe album sal verskyn. In September vanjaar reik hulle die snit “Jy stel my teleur” uit, wat vir etlike weke op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gepryk het.

Die snitte “Mejuffrou Sonneblom” en “Doin’ it right” is kort daarna sommer so saam-saam uitgereik. “Nostalgie en Suid-Afrikanismes is weereens die temas wat voorkeur geniet in hierdie splinternuwe klank vir Die Heuwels Fantasties,” het Fred den Hartog, baskitaarspeler vir die groep, gesê.

Janie Bay

In Mei vanjaar blaas Janie Bay, die blou oog, blondekop sangeres en liedjieskrywer, soos ʼn vars briesie deur die Afrikaanse musiekmark.

Dié Sama-benoemde kunstenaar reik haar debuutsolo-enkelsnit, “Amper daar”, uit en dit word vinnig ʼn gewilde snit onder luisteraars. Die liedjie is geskryf en vervaardig deur Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Peach van Pletzen en is geskryf uit Bay se persoonlike ervaring uit haar verhouding van die afgelope vyf jaar met die musikant en vervaardiger, Deon Dee.

“Amper daar” het in Junie in die nr. 1-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gepryk.

In Oktober word “Die Heelal” saam met nóg ʼn groot gees in alternatiewe Afrikaanse musiek, Early B, vrygestel.

“Dit was vir my baie cool dat hy ingestem het om dit saam met my op te neem. Hy is volgens my ʼn belangrike stem vir alternatiewe Afrikaanse musiek,” het Bay in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Spoegwolf

Die alternatiewe Afrikaanse rockgroep Spoegwolf se jongste album, Koma, het in Februarie vanjaar die eerste Afrikaanse album geword wat die nr. 1-posisie op die Apple Music-albumtreffersparade inneem.

Die Stellenbosse groep bestaan uit Danie du Toit (sang en kitaar), Chris von Wielligh (kitaar en klavier), Albert van der Merwe (baskitaar en sang) en Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang).

“Dis ʼn konsepalbum wat gaan oor trauma en daarom het ons gedink die idee van ʼn koma pas perfek. Die liedjies gaan oor iemand met wie nare goed gebeur – val, opstaan… val, weer opstaan… om dan op die ou einde te besef niks anders bly oor nie as die wesenlike droom van liefde en die bietjie lig wat diep in hom vonk,” het Danie du Toit oor die titel van die album gesê.

“Die luisterervaring moet voel soos ʼn diepe slaap; soos ʼn koma.”

Die groep het ook vanjaar kragte saamgesnoer met die rocker Francois van Coke vir die treffer “Dagdrome in Suburbia”. Dié snit verskyn op Van Coke se nuwe album met dieselfde titel, wat in Oktober vanjaar bekendgestel is.

Francois van Coke

Francois van Coke, kan sekerlik in eie reg as een van die hoekstene beskou word as dit by Afrikaanse rockmusiek kom en hy het ʼn groot jaar beleef.

Nié net het hy as mentor en stemafrigter van die MNet-realiteitsreeks geseëvier toe Tasché Burger, wat hom as mentor gekies het, dié sangkompetisie gewen het nie, maar hy het ook in Oktober vanjaar sy derde solo‑album, Dagdrome in suburbia, uitgereik.

Op die album sing Van Coke saam met mense soos Tasché, Ricky Rick, Hunter Kennedy en Spoegwolf.

“Die album gaan oor hoe dit is om in suburbia te woon,” het hy in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“‘Dagdrome in suburbia’ verwys na hoe ek gevoel het toe ek ʼn kind was. Ek het in suburbia, in Bellville, die noordelike voorstede van Kaapstad, grootgeword. En ek het gedroom van iets anders en meer as net die gewone, vervelige lewe. Ek het gedroom ek wou uitkom daar.”

Tasché

Die 19-jarige Tasché Burger van Brackenfell naby Kaapstad is in Julie as die wenner van M-Net se derde seisoen van The Voice SA aangewys is.

Hierna het dit nie lank gevat vir haar loopbaan as solokunstenaar om vlam te vat nie. In Augustus stel sy haar eerste enkelsnit, “Die Een”, bekend en dit word ʼn sensasie onder haar aanhangers. Die snit is by Van Coke Studios in Kaapstad opgeneem, met Hunter Kennedy (Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar) en Richard Onraet (Die Gevaar) as medeskrywers en Van Coke as medevervaardiger.

ʼn Kortalbum getiteld Tasché is in November uitgereik. Daar is ses liedjies op dié album, waarvan twee oorspronklike liedjies is. Sy het ook ʼn liedjie saam met Van Coke en ʼn liedjie saam met Danie du Toit van Spoegwolf opgeneem.

Biggy

Adrian Entwistle, oftewel Biggy, die 23-jarige kletsrymer van Port Elizabeth, het naam gemaak toe sy oorwurmliedjie, “Dames”, oornag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Dié liedjie was in September bo-aan Apple Music SA se top-5-lys en die musiekvideo het ook reeds meer as 4,5 miljoen trefslae op YouTube gelok.

Vandag is Biggy se dagboek vol bespreek met optredes reg oor die land, en tree hy op saam met mense wat hom inspireer het – kunstenaar soos Jack Parow en Early B.

Eet Kreef Herleef!

Die bekende akteur en Afrikaanse rocker Laudo Liebenberg van die musiekgroep aKING laat saam met Frank Freeman, Sheldon Yoko, Etienne van Rooyen en Schalk van der Merwe, ʼn moderne opname van die Johannes Kerkorrel-album, Eet Kreef, herleef. Dié album sluit snitte soos “Sit dit af”, “Hillbrow”, “Energie” en die bonussnit “Hoe ek voel” in.

Liebenberg en Freeman sing en speel kitaar, Yoko speel tromme, Van der Merwe is op baskitaar en Van Rooyen speel klawerbord. Nicole Mitchell is verantwoordelik vir die agtergrondsang.

Die Eet Kreef Herleef!-vertonings word deur dieselfde groep musikante aangebied op 18 Desember by Evita se Perron in Darling, asook by die US Woordfees op Stellenbosch op 15 Maart en by die Atterbury-teater in Pretoria op 27 en 28 Maart.

Die produksie is ook benoem vir ʼn Fiësta-toekenning vir beste musiekgedrewe produksie: Podium. Die 10de kykNET Fiësta-toekennings sal op Sondag 9 Februarie 2020 in Kaapstad toegeken word tydens ’n regstreekse uitsending wat op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.