Amanda Strydom-gebedslied kry nuwe lewe in musiekvideo

Amanda Strydom is by Aardklop met ‘So onner deur die maan’ (Foto: Facebook)

Op 18 Julie word ʼn nuwe musiekvideo van Amanda Strydom se lied, “A Child in a Faraway Land” bekendgestel. Kunstenaars soos Frazer Barry, Thandeka Dlala en Lumanyano “Unity” Mzi is saam met Strydom te sien in die video.

Die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting vier Nelson Mandeladag vanjaar met dié spesiale projek. Dit is in samewerking met die Cape Town Music Academy (CTMA), ’n nie-winsgewende maatskappy wat geleenthede skep vir kontemporêre musikante, moontlik gemaak deur Die Burger.

Samewerking tussen die Suidoosterfees en die stigting wat na Jakes Gerwel se nalatenskap omsien, kom al ’n lang pad. Frazer Barry is vanjaar ’n mentor by ’n liriekskryfskool wat vir die eerste keer deur die fees en die stigting aangebied word.

Vyf opkomende liriekskrywers is gekies om aan die mentorskapprogram deel te neem, en hulle talente word vir drie weke lank by die stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos geslyp.

Dié jong liriekskrywers sal saam met die gesoute kunstenaars wat in die Mandeladag-video optree, deel wees van ’n produksie wat in 2021 op die Suidoosterfees debuteer. Die video bied ʼn voorsmakie van die produksie wat volgende jaar deur die CTMA vervaardig word.

“Prof. Jakes Gerwel en oudpres. Nelson Mandela het wêrelde getransformeer deur vreedsame onderhandelinge,” sê Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel-stigting. “Die waarde van woorde om die wêreld ingrypend te verander, kan dus nie genoeg beklemtoon word nie.”

Gerwel was ’n stigsterslid van die Suidoosterfees en hy het jare lank as voorsitter van die feesdireksie gedien. Toe Madiba president was, was Gerwel sy regterhand en hooftoespraakskrywer in die presidensie. Met hierdie sinergieprojek wil die fees die fokus op die mag van woorde laat val.

Die inisiatief vier ook die Mandela-nalatenskap wat op Nelson Mandeladag uitgedra word, naamlik dat elke mens die vermoë het om ’n bydrae te kan lewer om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Johann Maarman, direksielid van die Suidoosterfees en eindredakteur van Die Burger, sê Madiba het met onselfsugtige seën sy vryheid vir ander mense prysgegee.

“Hy was ’n vegter vir menswaardigheid, vrede en versoening. Hy was ’n baken van vergifnis en hoop, en onder uiters moeilike omstandighede kon Suid-Afrika altyd koelte vind onder die groot Madiba-boom,” sê hy.

Strydom het “A Child in a Faraway Land” in 1994 geskryf in die jaar toe Madiba as president ingesweer is. Sy het dikwels tyd saam met die staatsman deurgebring.

“Hy het my geleer wat ware deernis en vergifnis beteken,” vertel sy. Strydom sê haar gedagtes is in hierdie tyd veral by Suid-Afrikaners wat as gevolg van armoede nóg swaarder deur die Covid-19-pandemie getref word.

Barry het Madiba in 1993 ontmoet tydens die oudpresident se besoek aan Genadendal. Hy sal dié besoek nooit vergeet nie.

“Ek was ’n matrikulant en het as jong Suid-Afrikaner op daardie oomblik gevoel dat wonderlike dinge moontlik is. Dit was vir my ’n eer om lirieke te kon bydra vir hierdie wonderlike lied van die legendariese Miss Mandy,” vertel Barry.

Vicky Davis, vervaardiger en programbestuurder van die CTMA, is opgewonde oor die eenheidsgevoel wat die kunstenaars met hul kuns kweek.

“Hulle is almal uiteenlopende kunstenaars en verteenwoordig elk ’n ander genre en generasie van die Suid-Afrikaanse musieklandskap,” sê Davis. “Die taal van musiek verenig mense en Strydom se gebedslied bring op dié manier hulde aan Madiba.”

Die oorspronklike weergawe van “A Child in a Faraway Land” het in 2008 in Strydom se album Kerse teen die donker verskyn. Die nuwe weergawe is in Stellenbosch by Sunset Recording Studios onder leiding van die bekende baskitaarspeler en vervaardiger, Schalk Joubert, opgeneem. Joubert is ook betrokke by die CTMA.

Hou gerus die Suidoosterfees en CTMA se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die musiekvideo wat op 18 Julie bekengestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

As ALMAL in die wereld net ook deernis en vergifnis kan he….