Amanda vir Fiesta benoem

Amanda-Strydom-vuur-gevang-in-glas

Amanda Strydom. Foto: cloveraardklop.co.za

Amanda Strydom is vir ʼn Fiësta benoem vir Die hele boksemdaais, die konsert wat sy in 2015 na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) geneem het. Die Fiëstas word toegeken aan die beste kunstenaars en produksies wat verlede jaar op Afrikaanse kunstefeeste landwyd gedebuteer het.

Strydom se medebenoemdes in die kategorie beste prestasie in ʼn musiekgedrewe produksie is Laurika Rauch vir Nie as ek sing nie, Margit Meyer-Rödenbeck vir die konsep van Liewe Heksie: Flower Power en Schalk Joubert vir die musiekregie van Al lê die berge nog so blou.

Strydom vertel meer oor haar loopbaanhoogtepunte, toekennings en haar hartsbegeerte…

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy is benoem?

Dis altyd ʼn aangename verrassing en ʼn eer.

As jy terugkyk op jou loopbaan, wat is vir jou die hoogtepunte?

Daar is so baie om voor dankbaar te wees. As aktrise die rol van die Poolse sangeres Elzbietha Karski in die TV-reeks 1922 en die dementialyer Hendrien Botha in Voor ek vergeet saam met Hannes van Wyk.

As sangeres my eerste musiekteaterstuk, State of the Heart, die Misa Criolla saam met onderskeidelik die PU- en en die Libertas-koor, Ons loop die pad saam met Coenie de Villiers, Plakboek saam met Laurika Rauch, Saam saam met Lize Beekman en die veelvuldige musiekproduksies met Janine Neethling, Juan Oosthuizen en David Klassen. Daarby ook my optredes in Nederland en die voorreg om in die Koninklijke Carré vir die Erfenisdag-viering te sing.

My ontmoeting met oudpres. Nelson Mandela span die kroon.

Is daar iets wat jy anders sou doen as jy nou terugkyk?

Absoluut niks. Die lewe loop soos hy moet.

Wat beteken toekennings soos die Fiëstas vir mense in die vermaakbedryf?

Ek kan nie names almal praat nie, maar dis altyd spesiaal as ʼn mens erkenning kry vir jou werk. Dis ʼn pouveer in jou hoed, ʼn aanmoediging om skeppend te bly.

Die Fiëstas vereer dié wat op kunstefeeste presteer het. Het jy ʼn gunsteling-fees?

Dis soos om ʼn ma te vra wie haar gunsteling-kind is! Elke fees is uniek en juis oor daardie uniekheid is elke fees vir my spesiaal.

Jy is in Maart op die US Woordfees te sien in Amanda loop die pad nou 60 jaar. Wat kan mense van die produksie verwag?

Ek wens ek het geweet. Janine Neethling, die musiekregisseur, hou alles geheim en sal my seker betyds laat weet wat my deelname behels. Ek is baie nuuskierig.

Wat is nog op jou bucket list?

Nou vra jy my vas. Ek wil net elke dag ʼn beter mens wees as wat ek gister was. Dis al wat tel soos ek ouer word.

Is daar nie ʼn nuwe CD op pad nie?

Ek moet eers die Lotto wen….

Wat geniet jy die meeste van toekenningsaande?

Dis heerlik om vriende raak te loop wat jy nie elke dag sien nie. Dis soos ʼn matriekreünie.

Gaan ons jou weer as aktrise op die verhoog of voor die kameras sien?

Dit is my hartsbegeerte, maar dis nie in my hande nie.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Sing so lank ek asem het. Leef so lank dit my beskore is.

Die Fiësta-toekennings word op 18 Februarie in die Staatsteater in Pretoria oorhandig. Die geleentheid word regstreeks om 20:00 op kykNET (Kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

elsabe ·

Baie seen en voorspoed vir jou Amanda! Hierdie jaar hou baie verassings in vir jou! xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.