Amira Willighagen: ‘Ek sing nie vir die erkenning’

Amira Willighagen. (Foto: Facebook)

Die jong Nederlandse sangsensasie Amira Willighagen het in ʼn aanvallige meisie met ʼn hart van goud ontpop sedert sy op negejarige ouderdom harte regoor die wêreld met haar sopraanstem verower het.

Willighagen het onlangs haar 16de verjaardag gevier deur haar derduisende aanhangers wêreldwyd op sosiale media aan te moedig om geldelike skenkings te maak aan haar Gelukskinders-liefdadigheidsorganisasie.

Dié organisasie is op die been gebring kort nadat sy die talentsoekkompetisie Holland’s Got Talent in 2013 gewen het en het reeds 13 speelparke in minderbevoorregte woongebiede reg oor Suid-Afrika opgerig.

Met haar verjaardagskenkings sal sy nog drie parke in Ikageng in Noordwes laat oprig sodra Covid-19-regulasies dit toelaat. Sy het ook R80 000 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk, wat nié net kos en ander noodsaaklikhede aan behoeftige kinders moes bied nie, maar ook bederfies soos warmsjokolade en malvalekkers.

Die idee vir die organisasie het ontstaan toe sy as kind saam het haar gesin besoek aan familie in Suid-Afrika gebring het en besef het daar is nie, soos in Holland, oral speelparke vir kinders beskikbaar nie. Willighagen het intussen permanent na Suid-Afrika verhuis en woon tans op Potchefstroom in Noordwes.

“Ek sing nie vir die erkenning, roem of geld nie. Ja, musiek en sang is my passie, maar my droom is om dit wat ek ontvang, met ander mense te deel,” vertel Willighagen aan Maroela Media.

“Ek het ʼn goeie lewe, met goeie geleenthede en ʼn normale huishouding, maar daar is soveel kinders wat nié so gelukkig is nie. As kind wou ek net speel en omdat ek weet hoe lekker dit is, wou ek graag daardie geleentheid vir minderbevoorregte kinders ook bied. Kinders se werk is eintlik om te speel. Dit is goed vir ontwikkeling en dit voel vir my asof kinders dit nie genoeg doen nie. ʼn Speelgrond het soveel voordele.”

Sy vertel dit is elke keer vir haar ʼn hoogtepunt om die kinders se opgewondenheid te beleef wanneer die parke amptelik geopen word.

“Die kinders storm op die speelgoed af en sal sommer in massas op die rondomtalie spring en net uit hulle velle wees van uitbundigheid. Dit is vir my so mooi om te sien hoe dankbaar hulle is,” voeg sy by.

Willighagen is in ʼn solovertoning te sien as deel van OPTOG! se aanlyn konsert-inisiatief. Sy tree saam met die bekroonde Steinway-pianis Charl du Plessis op in ʼn produksie wat in Augustus in die Atterbury-teater in Pretoria opgeneem is.

Die titel van die vertoning is Dream with Me en die sangeres vertel sy het dit spesiaal gekies sodat al die liedjies wat sy in die vertoning sing, mense hoop sal gee.

“As mense na die konsert gekyk het, wil ek hê hulle moet trane in die oë kry, maar ook gelukkig wees en glimlag. Ek wil hê dat hulle ná die konsert hoopvol na die toekoms sal kyk.”

Sy sing in dié konsert in Engels, Italiaans en Afrikaans. “Dit is veral belangrik in hierdie moeilike tydperk om positiewe dinge raak te sien. Musiek kan mense bereik en hulle herinner dat daar ʼn Here is wat ons beskerm. Die doel van die vertoning is om mense se gemoed te lig.”

Amira Willighagen verlede jaar tydens die Trouw Kerskonsert. (Foto: Facebook)

Volgens Willighagen was dit nie té vreemd om sonder ʼn gehoor op te tree nie, aangesien die helder ligte haar altyd op die verhoog verblind en sy nooit die gehoor in die oë kan kyk nie. “Die applous het egter ontbreek,” lag sy.

“Dit is nie net my eerste aanlyn konsert nie, maar ook my eerste solovertoning. Dit is vir my opwindend dat dit deur tegnologie wêreldwyd gesien kan word en dit was ʼn baie goeie leerervaring. Die konsert is tot dusver baie goed ontvang en ek sal dit beslis weer aanpak. Dit verbaas my dat mense van regoor die wêreld reeds kaartjies aangekoop het. Dit is ʼn riem onder die hart om te weet dat my getroue aanhangers my deurgaans volg en ondersteun.”

Dream with Me is van 11 tot 13 September aanlyn te sien. Kaartjies kos R120 met die opsie om ʼn donasie te gee en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae