Anaïs sing vir haar ‘Rooibaard’

Anaïs.

Ná twee solo-albums en ʼn rits televisieprogramme agter haar naam berei die sangeres, aanbieder en vervaardiger Anaïs haar nou voor vir ʼn heel nuwe rol – dié van ma.

Die blondekopsangeres, wat bekend is vir ʼn rits programme op die DStv-kanaal VIA, onder meer Droom Troues en Droom Reis, en ook saam met die sanger Gerhard Steyn te hoor is op die snit “Wie’t gesê liefde’s blind?”, word binnekort ma van ʼn babadogtertjie. Dit is haar en haar man, Maurice Loois, se eersteling.

Anaïs en Maurice is al amper tien jaar lank ʼn paartjie en haar splinternuwe enkelsnit “Rooibaard” is ʼn intieme terugblik op die oomblikke wat hulle die afgelope dekade gedeel het.

“Ek het die liedjie vir Maurice gesing as ʼn geskenk vir ons tweede huweliksherdenking verlede jaar. Ek het myself met ʼn ukulele begelei, al is ek nie baie vertroud met die instrument nie,” lag Anaïs.

“Ons het toe besluit om die liedjie te verwerk, op te neem en vry te stel as ʼn enkelsnit. Die lekker ding is dat Maurice saam met my in die vermaakbedryf werk, so ons kon saam tyd daaraan bestee om die snit te voltooi.”

“Rooibaard” verwys skertsend en liefderik na Maurice se baard wat rooier is as sy blonde hare, lag Anaïs.

“Die liedjie vertel ons hele liefdesverhaal en is as’t ware ʼn liefdesbrief. Dit beskryf my en Maurice se verhouding van begin tot einde en gee klein goedjies oor hom weg, soos dat hy ʼn tromspeler is met harde hande, maar tog saggeaard is. En natuurlik beskryf die liedjie ook ʼn rooi baard wat soms warm en krapperig teen my wang skuur.”

Anaïs en haar man, Maurice Loois. (Foto: Instagram)

Anaïs en Maurice het die liedjie by ʼn groot geselligheid in Muldersdrift bekend gestel. Die gaste is ook verras met die nuus van hulle eersteling, met leidrade wat in die vorm van plastiekfopspene en melkbottels in die spyseniering versteek was.

Die geslag van die baba – ʼn dogtertjie – is ook geheim gehou en vir die eerste keer by die geleentheid onthul.

“Ons is verskriklik opgewonde om ouers te word. Ek wou nog altyd ʼn ma wees en Maurice is gebore om ʼn pa te wees. Hy is mal oor kinders en hulle is mal oor hom.”

Sy en Maurice, wat saam aan die stuur van die produksiemaatskappy Be Your Dream staan, het ook die nuwe televisieprogram Ons groei saam aangekondig. Die program sal vanaf Maart volgende jaar op VIA uitgesaai word en onder meer Anaïs se swangerskapsreis volg, asook na ander vroue se pad met vrugbaarheid en ouerskap kyk.

“Ons bekyk moeilike onderwerpe soos vrugbaarheid en ʼn vrou se opsies met die jongste mediese uitvindsels, asook aanneming en die pad wat aanneemouers moet stap. Ons wil graag die kykers bewus maak daarvan dat elke vrou verskillende uitdagings in die reis na ouerskap beleef.”

Anaïs verklap dat hulle nog wik en weeg tussen die name Isabella en Ariella. “Ons wou graag ʼn naam kies wat gepas is vir ʼn kryger van God, en die naam Ariella het spontaan by ons opgekom terwyl ons oor name gesels het. Die betekenis daarvan is ‘leeu van God’ en ons dink dit is heel gepas,” vertel sy.

Luister hier na die liedjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.