André Schwartz ‘dankbaar’ vir asem ná Covid-stryd

André Schwartz se jongste enkelsnit, ‘Ek haal asem’, is onlangs uitgereik.

Te midde van talle gesondheidstruikelblokke, asook ʼn uitdagende stryd met Covid-19, verwoord André Schwartz sy waardering vir lewensgewende asem op die mooiste manier waarop hy kan – deur sang.

Schwartz se jongste enkelsnit getiteld “Ek haal asem” is onlangs uitgereik en is uit sy eie pen. Aspekte van onthou, die mens se sterflikheid en vrees vir verlies is temas wat in die lied aangeraak word.

Schwartz ag dit ook as een van sy persoonlikste liedjies terwyl luisteraars wêreldwyd weens die pandemie daarby aanklank kan vind, sê hy.

“Dit is interessant hoe so ʼn diep, persoonlike ervaring ook dan so universeel is ten opsigte van Covid. Die inspirasie vir die liedjie het gekom nadat ek een oggend, ná weke van in en uit die hospitaal wees en tuis aan suurstof gekoppel wees, besef het ek haal self asem.”

Volgens Schwartz is die terugvoer wat hy oor die liedjie ontvang, net so betekenisvol soos die liedjie self.

“Die terugvoer is meer as net ‘dis ʼn mooi liedjie’. Mense sê dat dit hulle aangeraak het en dat hulle dit kon aanstuur vir iemand in hierdie tyd. Dit is so verblywend om te sien dat ʼn mens kan skryf oor asemhaling. Die liedjie dra die boodskap oor dat ons dankbaar moet wees vir genade om asem te kan haal en dit te kan waardeer.”

Hoewel hy steeds sukkel met sy longe nadat hy Covid opgedoen het, het hy andersins ten volle herstel van dié siekte.

“Ek vaar baie goed. Toe ons in Maart konserte kon hou, het ek getoer en gesing en dit is ongelooflik hoe ʼn mens krag kry wanneer jy dit doen waarvoor jy lief is.”

Schwartz en die liedjieskrywer Loki Rothman het saam aan die liedjie gewerk. Rothman het ook die liedjie vervaardig.

“Loki is ʼn regte whiz kid en hy het die liedjie so ʼn vars aanslag gegee. Dit pas nie in enige boksies nie. Ons wou die liedjie kwesbaar en toeganklik maak en hy het dit onmiddellik begryp. Hy luister graag na mense wat jare in die bedryf is en ek kan nie wag om te sien waarheen Loki eendag sal gaan nie, maar dit gaan mooi wees.”

Schwartz verklap dat hy tans besig is om vir ʼn nagraadse kwalifikasie in toegepaste sielkunde te studeer en dat hy sy oog het op ʼn loopbaan in leefstylafrigting.

“Ek het lankal gesit met die idee om leefstyl- en lewensafrigting te doen. Ek het vir jare ʼn bemarkingsmaatskappy gehad wat met groot handelsmerke gewerk het en ek is lief vir mense. Ek ken die korporatiewe wêreld baie goed.

“Ek geniet hierdie proses van ontdekking so baie. Dis interessant wat so ʼn studie ʼn mens kan leer van jouself. Jy kom op ʼn ouderdom wat jy dink hierdie ou straatkat weet alles, maar die wonderlikste ding is om nog soveel binne jouself te kan ontdek. Dit is so verrykend, ek kan nie vir jou sê nie.”

“Ek haal asem” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.