André Schwartz: ‘Ek bid dat Kersfees-liefde ons sal omvou’

André Schwartz. (Foto: Verskaf)

Vir die sanger André Schwartz is Kersfees nog altyd ʼn dag waarop samesyn en tradisie seëvier: Selfs ʼn regte, outydse doekpoeding met ʼn versteekte tiekie maak elke jaar sy verskyning op die kreunende kostafel.

Onder normale omstandighede sou groot tafels onder die lowergroen bome op sy plaas in die Wieg van die Mensdom op Oukersdag al gedek word vir die vriende en familie wat op Kersdag daar sou aanklop. ʼn “Orphan’s Christmas” het hy dié byeenkomste gedoop, want dit is ʼn dag waar elkeen wat geen ander heenkome het nie, welkom is aan sy Kerstafel.

Weens die Covid-19-pandemie lyk Kersfees egter vanjaar ʼn bietjie anders, vertel Schwartz in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Hierdie jaar gaan ek Kersdag saam met pelle by hulle huis deurbring en vir die eerste keer in jare nie by die huis wees nie. My ma, Ina, gaan die dag saam met my en my vriende deurbring.”

André en sy ma, Ina. (Foto: Instagram/André Schwartz)

Dié gematigde Kersplanne beskerm sy vriende, wat sukkel met immuunstelselprobleme, sowel as homself, verduidelik hy. Die sanger het in Februarie verlede jaar onthul dat motorneuronsiekte (MNS) by hom gediagnoseer is.

Hy bieg dat hy ná ʼn uitdagende jaar die Kersfees-tradisie en die onthaal op die plaas gaan mis, maar voeg by dat sy ma se teenwoordigheid ʼn groot seën is.

“Sy het deur die hele inperkingstydperk by my gewoon. Dit is die langste wat ons saam onder een dak bly sedert ek 17 jaar oud was. Dit is ongelooflik lekker om my ma hier te hê en uit die aard van die saak sal my Kersplanne haar vanjaar, net soos al die jare tevore, insluit.”

Hy sê sy grootste hartseer oor die feesseisoen is wanneer mense aan hulle eie genade oorgelaat word op Kersdag. “Ek is dankbaar dat ek nog nooit ʼn Kersdag op my eie deurgebring het nie. Ek dink om Kersfees op jou eie te sit, sonder dat enigiemand jou in hulle spasie genooi het, moet baie moeilik wees. Ons almal het ʼn verantwoordelikheid om mense nou nader aan ons te trek – al moet ons dit eintlik heel jaar lank doen.”

Schwartz het onlangs ʼn kortalbum met ses snitte, Stukkie Kersfees, uitgereik. Die aktrise Shaleen Surtie-Richards is in die snit “Rudolf the Red Nose Reindeer” te hoor.

Die musiekvideo vir die enkelsnit, “Ek wens vir jou ʼn Kersfees”, het reeds in November sy debuut op YouTube gemaak. Die video is geregisseer deur Arno Greeff, ook bekend as akteur in flieks soos Vergeet my nie en Vaselinetjie en die Netflix-reeks Blood and Water.

Die video is in die skuur op Schwartz se plaas verfilm. Donkels, ʼn buurplaas se donkie wat hy teëgekom het toe daar onlangs ʼn wegholbrand in die omgewing ontstaan het, maak ook sy verskyning in die video.

“Ek het by die klavier gaan sit en dit is asof die liedjie langs my kom sit het,” vertel Schwartz oor die snit uit sy eie pen.

“Aan die begin van die pandemie was daar ʼn samehorigheidsgevoel reg oor die wêreld en ons het almal gevoel ons kan met mekaar vereenselwig omdat ons in dieselfde bootjie is. Wat my hartseer maak is dat dit vir my voel ná alles wat ons deurgemaak het hierdie jaar, het ons as mense nog steeds niks geleer nie. Daar is nou nog meer verdeeldheid, rassisme en haat as ooit tevore. Daarom bid ek vir Kersfees-liefde om ons almal te omvou.”

Oor sy gesondheid kan hy ook nie kla nie en het hy weer onlangs met behandeling begin. Hy het ook ʼn Namibiese konserttoer na Windhoek en Swakopmund om na uit te sien. Dié konserte is gratis, met die enigste vereiste dat elke konsertganger ʼn Kersgeskenk vir ʼn kind moet saamneem.

André en Arno Greeff op die stel van die musiekvideo vir ‘Ek wens vir jou ‘n Kersfees’. (Foto: Verskaf)

“Met hierdie siekte het ek so ʼn uitstorting van liefde ontvang dat ek nie eens weet waar om te begin nie. Mense stap verby my en tik my op die skouer en sê hulle is bly om te sien ek lyk goed, en hulle dink aan my en bid vir my. Dit is oorweldigend, maar ek is dankbaar. My wens is dat almal hierdie liefde kan beleef hierdie Kersfees, want ons het almal soveel liefde om te gee.”

Hy benadruk dat dit belangrik is om hierdie feesseisoen gaaf te wees met die mense wat jou bedien in winkels en vulstasies. Hy skerts dat hy sy ma se voorbeeld volg deur met elke Jan Rap en sy maat in ʼn geselsie aan te knoop.

“Maak ʼn grap, al is dit simpel, solank hulle ʼn glimlag op hulle gesigte kry. Die Kersfees-gees lê nie in ʼn tafel vol kos nie, maar in daardie liefde en interaksie met jou naaste. Ek glo jou naaste is almal en ek dink dit is ook die Christus-boodskap.”

Stukkie Kersfees is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ek wens vir jou ʼn Kersfees”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.