André Schwartz hou konsert op sy plaas

André Schwartz. (Foto: Verskaf)

André Schwartz stel sy plaas in die Wieg van die Mensdom in April vir die eerste keer vir aanhangers oop wanneer hy die produksie West End tot Weskoppies saam met die sangeres Leah daar aanbied.

Op Vrydag 2 April sing André en Leah die grootste treffers uit die bekendste musiekspele asook van hulle eie gewilde pop- en kontemporêre liedjies.

“Ek is baie lief vir die plaaslewe en hou ook daarvan om mense na my plaas te nooi. Op hierdie dag kombineer ek my groot liefdes – my plaas, diere en musiek. En saam met Leah wil ons die dag ook met aanhangers deel,” sê André.

Leah is net so opgewonde om op die plaas te kom kuier en die gaste te vermaak. “Toe ek en André hierdie produksie beplan het, het ek sommer nostalgies geraak oor al die wonderlike oomblikke wat musiekspele al gelewer het.

“Dit plaas ʼn mens sommer in ʼn ander wêreld en laat jou so ʼn bietjie vergeet van tyd. Ek is ʼn groot diereliefhebber en sien baie uit om al die diere te sien.”

Leah. (Foto: Willem Botha)

Gaste kan daarna uitsien om vir Neelsie, die boepensvarkie en jongste toevoeging tot die Schwartz-familie, te ontmoet asook André se hondekinders, die driebeen bokser Lucia, Trudi en Molly. Hoenders is ook volop en die pragtige perde Darling, Miracle en Gorgeous sal ook deel in die pret en plesier.

Die kaartjieprys sluit ʼn skaapspitbraai in. Daar is ook ʼn verskeidenheid drinkgoed te koop sowel as iets om die soettand te bevredig.

Die middagvertoning vind plaas op André se grasperk. Onthou dus om ʼn kombers, sonhoed en genoeg sonskerm saam te bring.

Gaste kan ongelukkig nie hulle eie piekniekmandjie met eet- en drinkgoed saambring nie, tensy dit gevul is met wortels vir die perde en waatlemoen vir die klein varkie.

Die hekke maak om 13:00 oop met die vertoning wat om 15:30 begin.

Kaartjies is beskikbaar by Quicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.