André Swiegers se soeke na ’n eenvoudiger lewe

André Swiegers sê hy volg ‘n minimalistiese leefstyl en dit sluit ook aan by die titel van sy jongste album. (Foto: André Swiegers, Facebook.)

Die liedjieskrywer en sanger André Swiegers (61) sê hy het so paar jaar gelede besluit om af te skaal en ʼn meer minimalistiese leefstyl te volg.

“Ek het net besluit ek soek ʼn minder gekompliseerde lewe, en dit het alles aangeraak, van my gesondheid tot die manier waarop ek my administrasie hanteer. Ek het ontslae geraak van televisie, want ek het net gevoel ek het beter dinge om met my tyd te doen en ek het selfs op sosiale media gesny. ʼn Mens hoef nie deurentyd met al hierdie inligting gebombardeer te word nie,” sê Swiegers.

Die nuwe lewenswyse het ook Swiegers se musiek en die manier waarop hy dit aanbied, beïnvloed. Hy vertel die bekendstelling van sy jongste album getiteld Pura Vida, wat uit Spaans vertaal kan word as “die suiwer of eenvoudige lewe”, sal eenvoudiger en gestroop van enige fieterjasies wees.

Die amptelike bekendstelling van dié album vind op 20 Februarie by die Atterbury-teater in Pretoria plaas. André sê die gehoor sal hom saam met sy seun Emile, wat self ook ʼn kranige kitaarspeler is, en Craig MacKinnon met sy bekfluitjie op die verhoog sien.

“Ek het besluit om ʼn tree terug te gee en weg te beweeg van groot produksies af. Die hele gedagte is om dit eenvoudig aan te bied, soos toe dit net ek, my musiek en my kitaar was, sodat dit kan aansluit by die tema van my album.”

Hy het hierdie keer ook self die produksie van die album behartig, juis omdat die musiek se styl eenvoudiger was.

Swiegers sê hy het die term pura vida vir die eerste keer gehoor na ʼn vriendin van hom in Costa Rica besoek afgelê het.

“Die mense daar praat gedurig van die ‘eenvoudige lewe’ en gebruik die term of dit nou goed of sleg gaan. Die term het my so aangegryp, want hierdie mense lê eerder klem op die gesondheid, vriende en die maak van musiek – die mooi en die goeie van die lewe.”

Swiegers sê hy kan nie onthou dat hy ooit regtig jaloers geword het nie. “Die dag toe my jongste seun sak en pak vort is na die Kaap het ek net gedink dit lyk darem nou lekker, maar terselfdertyd is dit net nie vir my so maklik om dit te doen nie.”

Dit het hom laat besluit om eerder van sy besittings ontslae te raak sodat daar meer spasie in sy lewe is vir dit wat regtig belangrik is.

Hy sê toe hy jonger was, het hy baie planne gehad, maar deesdae fokus hy eerder op die oomblik van nou.

“Dit is nie dat ʼn mens planloos is nie – want dit kan jy nie wees nie – maar die oomblik van nou is eintlik al wat regtig saak maak. Ek wil so positief as moontlik te wees.”

André sê dit is ʼn lewensfilosofie wat hy nog altyd net effens na gemik het, en alhoewel hy verstaan dat dit nie vir almal kan werk nie, is dit ʼn lewenstyl wat hy nou wil volg.

“Ek sal op die ou einde sekerlik net my twee kitare en my motor oorhou, maar ek dink nou nie ek sal ʼn volbloed minimalis word wat net ʼn tandeborsel in sy rugsak het nie,” skerts hy.

André se beginsels vir ʼn eenvoudiger lewe:

  • Fokus op jou geestesgesondheid. “Moenie jouself ophou met mense wat jou die heeltyd negatief stem nie.”
  • Kyk na jou fisieke welstand. “Vroeër jare het ek my oorgegee aan gaskoeldrank, ek was as’t ware verslaaf aan Coca-Cola. Ek het gaskoeldrank nou heeltemal opgegee en weer die smaak en ʼn liefde vir water ontdek. En ek stap die afgelope vyf jaar weer elke dag.”
  • Minder besittings. “Ek wil mobiel wees sodat ek soos my kind kan oppak en trek na ʼn plek of land wat vir my lekker lyk. Ek wil graag Kaap toe trek sodat ek in ʼn rustiger omgewing is. Kyk, ek weet dit is nêrens hemel op aarde nie, maar party plekke is darem net nader aan die hemel.”

Besoek André Swiegers se Facebook-blad vir meer inligting oor sy musiek en optredes.

André Swiegers het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor sy nuwe album Pura Vida wat later vandeesmaand in die Atterbury-teater in Pretoria amptelik bekendgestel word. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Wenners:

Baie geluk aan Esme van der Merwe van Gauteng, Susan Campher van Noordwes, Michelle Hon van die Wes-Kaap en Heinrich van Wyk van die Vrystaat wat elkeen twee albums van André Swiegers wen. Julle pakkies is in die pos – lekker Maroela!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

De Villiers ·

Dit is gewoonlik mense met te veel geld wat op soek is na ‘n “eenvoudiger” lewe sonder “stres” en ‘n gejaag.
Om in eenvoud te lewe is ‘n alle daagse ding vir die meeste van ons…

Ek sien nou die dag iemand wat die vraag vra hoe iemand kan gelukkig wees om net op een plek te bly en nooit die wêreld te deur reis en nuwe plekke en mense te sien nie. Die antwoord was “armoede”. Ek sal nie sê ek is arm nie, maar die wêreld toer sal ek nooit kan doen nie.

Vir party van ons is daar geen ander uitweg om maar deur die stres en gejaag te druk nie. Ook geen manier dat ons sommer net kan oppak en na ‘n “lekker” plek toe gaan nie, maak nie saak hoe min besittings ons het nie!

Snaakste is dat hy sy besluit as ‘n tipe filosofie sien en nogals raad verskaf vir ‘n “eenvoudiger” lewe.

Lagwekkend!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.