Andréa blaas nuwe lewe in musiekbedryf met ‘Tweede asem’

Andréa Lemmer. (Foto: Verskaf)

Dit is vir enige jongmens soms ʼn uitdaging om sy of haar studies te voltooi, maar om boonop ʼn vollengtealbum tussen klasloop en kuiers op te neem, is geen grappie nie.

Nuweling Andréa, oftewel Andréa Lemmer, het egter bewys dit kan gedoen word en is uiteindelik gereed om haar handboeke vir die verhoog te verruil met haar eerste enkelsnit, “Tweede asem”.

Dié lied is die eerste treffer uit haar debuutalbum met dieselfde naam, wat nou ook landwyd op alle digitale stroomplatforms te vind is.

Andréa is dalk ʼn nuwe gesig in die vermaaklikheidsbedryf, maar is sedert haar kinderjare aan musiek blootgestel. Sy skerts dat sy gereeld op pad skool toe haar “longe uit gesing het” – so erg dat haar ma, Riana, haar gereeld moes vra om op te hou.

Sy begin reeds in gr. 2 sanglesse neem en kort daarna bykomende lesse in klavier, akoestiese kitaar én elektriese kitaar.

Die donkerkop het in 2021 haar honneurs in besigheidswetenskap voltooi, met bemarking en bestuur as hoofvakke. Tussendeur het sy haar musiekopvoeding ook voortgesit en deur Trinity College London gr. 6 in musiekteorie, gr. 7 in elektriese kitaar en gr. 8 in sang bereik.

Sy spog ook met betrokkenheid by twee internasionale instansies, waarvan een die President’s Award for Youth Empowerment (TPA) is, wat deur koningin Elizabeth II se oorlede man, prins Philip, begin is.

Andréa is egter nou gereed om nuwe drome met haar musiek te verwesenlik en hoop dat luisteraars die storie en boodskap agter elke lied op haar album sal raaksien.

Haar debuutenkelsnit is uit die pen van ADAM se Hugo Ludik, asook Posduif en Rubber Duc se Nick Jordaan. William Wolf, die talentvolle Bloemfonteinse sanger en liedjieskrywer wat treffers vir sangers soos Caroline Grace, Pieter Koen en Brendan Peyper geskryf het, het ook verskeie liedjies help neerpen. Andréa self het ook help skryf aan die snit “Become”.

Dié veelsydige album vind inspirasie uit pop- en countrymusiek en is by Ludik se ateljee, Muse Studios, vervaardig.

“Tweede Asem” word begelei deur ʼn musiekvideo, wat ook deur Muse Studios se span verfilm en vervaardig is.

Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.