Andrea Bocelli se Paaskonsert laat spat rekords met kykergetalle

Op die trappe van die heeltemal verlate piazza – ʼn ongekende gesig vir die internasionale baken – het hy die eerste vers van “Amazing Grace” heeltemal sonder begeleiding gesing. (Foto: Luca Rossetti / Sugar SRL / Decca Records.)

Meer as 2,8 miljoen kykers het direk op YouTube ingeskakel om die regstreekse uitsending van die Italiaanse tenoor, Andrea Bocelli, se emosioneel belaaide solo-uitvoering op Paassondag te kyk.

Dié video het ʼn verdere 28 miljoen kykbeurte in die eerste 24 uur gekry ná dit vir die eerste keer uitgesaai is. Boonop was daar ook reeds ʼn miljoen kykers in die wagkamer voordat die uitsending begin het in afwagting op die uitvoering.

Dit is tans al meer as 36,3 miljoen keer sedert 12 April gekyk, wat hierdie vertoning een van die grootste regstreekse klassieke musikale optredes van alle tye maak.

“Ek is opgewonde en verheug oor die oorweldigende reaksie en ontvangs, wat selfs ons wildste verwagtinge oortref het,” het Bocelli gesê. Maroela Media het vroeër berig die operasanger beskou die geleentheid nie as ʼn vertoning of ʼn konsert nie, maar verkies om dit eerder “net ʼn gebed” te noem.

“Vir ʼn kunstenaar is die gebeurtenis iets waarvoor ʼn mens jou lewe opoffer en vir ʼn gelowige was dit vir my net ʼn verdere bevestiging van die welwillende glimlag waarmee die Hemelse Vader na sy kinders kyk.

“Dit was vir my ʼn onmeetbare eer en voorreg om my stem te gee aan die gebede van miljoene mense, wat simbolies versamel was in ʼn enkele omhelsing. Dít is ʼn klein wonderwerk waarin die hele wêreld saam die hoofrol vertolk het en dit bevestig ook my optimisme oor die toekoms van ons planeet.”

Bocelli het ook elkeen bedank wat agter die skerms gewerk het om die 30 minute lange Paassondag-uitsending moontlik te maak.

Die tenoor is slegs vergesel deur die orrelis Emanuele Vianelli in die konsert en het sy vertoning in die leë Duomo-katedraal in Milaan gelewer.

Bocelli het die opwindende voordrag met die lied “Amazing Grace” beëindig. Hy het in stilte uit die katedraal vir die sing van dié lied gestap. Op die trappe van die heeltemal verlate piazza – ʼn ongekende gesig vir die internasionale baken – het hy die eerste vers heeltemal sonder begeleiding gesing.

Kykers het hierdie toneel as ʼn oomblik van onvergeetlike berusting beskryf.

Andrea Bocelli is slegs vergesel deur die orrelis Emanuele Vianelli in die konsert en het sy vertoning in die leë Duomo-katedraal in Milaan gelewer. (Foto: Luca Rossetti / Sugar SRL / Decca Records.)

“Musiek het die mag om gemeenskappe van oor die wêreld op die mees unieke en mees belangrike maniere te verenig. In so ’n ongekende tyd is dit van sleutelbelang dat ons saamstaan, en aanhou kontak maak deur musiek. YouTube is geëerd dat die platform ʼn rol gespeel het om seker te maak dat die wêreld as een musiekfamilie kan saamkom om Bocelli se optrede op so ’n historiese tyd te sien, aan te hoor en na te luister,” het Lyor Cohen, YouTube se algemene hoof van musiek, gesê.

Dickon Stainer, president en uitvoerende hoof van Global Classics & Jazz, Universal Music Group, het op sy beurt gesê: “Die musiek van Andrea Bocelli het Sondag ’n balsem aan die siel van die wêreld gebring. Die geleentheid was ʼn demonstrasie van merkwaardige spanwerk.”

“Die sukses van ‘Musiek vir Hoop’ demonstreer die begeerte wat almal in die wêreld vandag het om ’n oomblik van gebed en hoop te deel. Andrea se stem het ’n geleentheid geword vir die hele wêreld om te omhels in hierdie moeilike tyd. Geen hindernisse nie, maar oorbruggings van menslike liefde en solidariteit. Dit is die kern van Sondag se geleentheid,” het Filippo Sugar, president van Sugar Music, gesê.

Die geleentheid is op uitnodiging van die Italiaanse stad en katedraal aangebied en Bocelli het sy stem gratis aangebied.

Die Andrea Bocelli-stigting is tans ook betrokke by ʼn geldinsamelingsprojek om hospitale te help om toerusting aan te koop wat nodig is om mediese personeel teen Covid-19 te beskerm.

Geniet die vertoning hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.