Andriëtte glo ‘musiek sal altyd verstaan’

Andriëtte se jongste enkelsnit, “Sonder liefde”, is pas uitgereik. (Foto: Alex & Chris Photography)

“Hulle sê dat musiek ’n universele taal is. Almal verstaan in daardie oomblik, selfs al praat mens nie dieselfde taal nie.”

Andriëtte se jongste enkelsnit, “Sonder liefde”, is pas uitgereik en vang die waarde vas wat die sangeres aan betekenisvolle musiek heg.

“Jy sing of oor liefde, of ʼn lewensles, of lewenservaring. Met hierdie liedjie wou ek ’n ander boodskap oordra.

“Mense ervaar vreeslik baie spanning weens finansiële druk, alles wat duurder word, en dan is daar nog beurtkrag. Daar is een ding in die lewe waarsonder mens nie kan gaan nie, een ding wat mens hoop gee – liefde.”

Wanneer ʼn mens voel asof niemand jou verstaan nie, of wanneer jy nie met enigeen kan praat nie, is musiek daar vir jou, meen Andriëtte. In daardie oomblik is musiek al een wat verstaan.

As dit weer goed gaan, deel musiek in jou vreugde. “Dan sit jy sommer ‘Eye of the Tiger’ aan en voel nóg beter.”

Dit is juis waarom Andriëtte met elke liedjie moeite doen om seker te maak dat die woorde daarvan werklik treffend is.

“Van kleins af was musiek vir my spesiaal. As klein dogtertjie het ek na musiek geluister wanneer ek hartseer was, dan het dit my laat beter voel. Dit is vir my wonderlik dat ek nou musiek maak wat dit in iemand anders se lewe kan wees.”

“Sonder liefde” vang die waarde wat liefde tot mens se lewens toevoeg, vas. Andriëtte glo dat daar nie ’n mens op aarde is wat nie daarvan hou om liefde te gee of te ontvang nie.

“Wat is ons as ons nie liefde het en deel nie?”

Dit verstom haar om te dink dat sy, deur haar musiek, in mense se huise welkom geheet word. Wanneer mense haar omhels soos ’n vriendin wat al jare lank deel van hul lewens is, klop haar hart besonders warm.

Mense kom dikwels na Andriëtte toe met stories oor liedjies, wat dikwels al jare oud is, wat hul deur hul moeilikste tye gedra het.

“Dit is ’n ongelooflike groot voorreg dat my musiek iets vir mense beteken. Om op ’n verhoog te staan en daardie oomblik met mense te kan deel.”

Dis nou al 14 jaar sedert Andriëtte harte gewen het in die sangtalentkompetisie Idols.

Is sy ooit spyt dat sy op 19, bloedjonk en naïef, aan Idols deelgeneem het?

“Nee, niks keer jou wanneer jy jonger is nie,” erken Andriëtte. Wanneer ʼn mens jonk is, het jy ʼn soort vreesloosheid wat jou oorhaal om ʼn kans op sukses te waag.

“Dis wanneer jy ouer raak wanneer jy vrese begin ontwikkel.”

Sy reken sy was op die regte plek op die regte tyd, sê Andriëtte. Tog weet sy dat haar deelname aan en sukses in dié kompetisie deel van God se plan vir haar lewe gevorm het.

ʼn Reis met gesondheid

Alhoewel Andriëtte vandag dit weer terdeë geniet om te sing en op die verhoog te wees, moes sy weens stemprobleme en -operasies vir drie jaar wag om weer haar passie uit te leef.

“Sjoe, mens kom op ’n plek waar jy wonder wat die Here se plan nou met jou lewe is. Ek het besef dat as dit deel van Sy plan is dat ek weer sal sing, sal ek weer sing.”

Haar behoud gedurende die paar jaar wat sy nie op die verhoog kon wees nie, was haar mense, erken Andriëtte. Sy is immers deur en deur ’n familiemens.

“My hart is vol wanneer ek saam met my familie is.”

(Foto: Alex & Chris Photography)

Sy is veral dankbaar daarvoor dat niemand druk op haar geplaas het om terug op die verhoog te klim of oorhaastige besluite oor haar toekoms te neem nie.

“Met hierdie soort stembeserings is een van die belangrikste dele van die herstelproses tyd. Mens moet geduldig wees en wag totdat dit uiteindelik weer reg is.”

Na langer as ’n dekade in die musiekbedryf, koester Andriëtte nog elke liedjie wat uitgereik word, elke musiekvideo wat gemaak word en elke oomblik wat sy op die verhoog kan deurbring.

Sy erken dat sy deur die jare heen nooit werklik geweet het of ’n liedjie sou goed doen of nie. Sy het bloot musiek gemaak wat met haar hart gepraat het met die hoop dat dit met haar aanhangers ook sou praat.

“Ek sing oor dinge waarin ek glo, dit waarmee ek grootgeword het en die waardes wat jy wil oordra aan jou kinders,” vertel sy.

“My ma het altyd vir my gesê dat die Here se liefde my vooruit loop. Hy is al klaar by die dinge waaroor jy bekommerd is. Dit is waarin ek berusting vind.”

Kyk na “Sonder Liefde” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Die dame het net die gawe om musiek te maak/voort te bring wat elke keer vir my, ‘n treffer is. Mag sy so voort gaan. Ek is en bly een van haar aanhangers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.