Andriëtte: Van kleintyd-drome na groot verhoë

Andriëtte. (Foto: Alex + Chris Photography)

Veertien jaar gelede het die Kaapse sangeres Andriëtte die land regop laat sit met haar smeulende, diep stem op die talentsoekprogram Idols, waar sy uiteindelik die tweede plek behaal het.

Sy het kort daarna die Afrikaanse musiekmark betree en vandag is sy steeds een van die gewildste en mees geliefde Afrikaanse sangeresse.

Met liedjies soos “Druppel in die see”, “Pêrel vir ʼn kroon” en haar groot treffer “Sewe oseane”, het Andriëtte haar plek as een van Afrikaans se gerekendste sangeresse verseker.

Sy was ʼn lang ruk stil, ná ʼn operasie aan haar stembande, maar nou is sy terug met ʼn splinternuwe liedjie, “Mis jou meer”, uit die pen van Johan Oberholzer, en wink daar nou nuwe uitdagings vir haar op die musiekhorison as deel van Coleske Artist Management.

Andriëtte vertel aan Maroela Media dit was ʼn groot droom wat vir haar bewaarheid is toe sy deel geword het van dié gesogte kunstenaarsbemarkingspan.

“Dit was ook baie lekker om weer ʼn liedjie van Johan [Oberholzer] op te neem. Die liedjie het steeds die kenmerkende Andriëtte-klank, want ʼn mens moet maar dieselfde soort klank deur jou musiek dra, maar daar is beslis iets nuut en vars aan ‘Mis jou meer’,” sê Andriëtte.

“Ek is mal oor hoe Johan skryf, want hy skryf die liedjies sodat ek my stem gemaklik daarby kan gebruik.”

Sy was maar ʼn groentjie van 19 jaar oud toe sy op die Idols-verhoog gestaan het, ʼn platform waarvoor sy vandag baie dankbaar is, sê sy.

“Ek dink ek sou sonder dié platform baie meer gesukkel het om myself in die musiekbedryf te vestig. Toe ek destyds aan die kompetisie gaan deelneem het, het ek nooit gedink ek sou dit so ver maak nie. Ek het sang baie geniet en dit was my passie, maar dit het baie aanmoediging van my familie en vriende gekos om ʼn kans te waag,” onthou sy.

Andriëtte. (Foto: Alex + Chris Photography)

“Dit maak egter nie saak watter platform jy kry nie – jy moet steeds werk om in die bedryf te bly. Ek is gelukkig dat ek 14 jaar later steeds ʼn inkomste kan verdien uit sang en ʼn loopbaan daarvan kon maak.

“Ek dink wel dit het tot my voordeel gestrek dat ek dadelik die Afrikaanse musiekmark betree het, want Afrikaanse mense het dadelik by my aanklank gevind omdat ek self Afrikaanssprekend is. Ek het net besluit dit is my taal en dit is waarin ek gaan sing, al is ek steeds mal daaroor om Engelse liedjies te sing.”

Andriëtte vertel dat sy van kleins af daaroor gewonder het hoe dit sou voel om ʼn sanger te wees en het kunstenaars soos Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr bewonder. Min het sy geweet Theuns sou haar eendag onder sy vlerk neem as kunstenaar en touwys maak in die bedryf, of dat sy eendag in Steve se voorvertonings sou optree.

“Nadat ek aan Idols deelgeneem het, het Theuns met my kontak gemaak en gesê hy glo in my en dat ek ʼn sukses kan maak van my loopbaan. Hy en sy suster het my ingetrek en deelgemaak van sy vertonings en my gehelp met besprekings. Dit was vir my wonderlik om te dink dié ikoon wat ek van kleins af bewonder het glo in my en vertrou my sangvermoë genoeg om dit deel van sy eie vertonings te maak. Theuns was ʼn uiters professionele kunstenaar by wie ek ongelooflik baie geleer het van professionaliteit.”

Theuns het in November verlede jaar sy stryd teen leukemie verloor. “Toe ek die dag hoor hy is nie meer hier nie, het dit soos ʼn skok deur my gegaan. Ek sal altyd die herinneringe saam met my dra en altyd onthou dat hy ʼn groot deel van my lewe en loopbaan was.”

As ma van drie seuns, nou onderskeidelik drie, vier en 12 jaar oud, vrou vir haar man, Glynn, en een van die land se grootste kunstenaars, is dit nie altyd maklik om al die balle in die lug te hou nie. Tog het sy ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk wat haar hiermee help, sê sy.

Andriëtte. (Foto: Alex + Chris Photography)

“Ek is baie bevoorreg dat my ma skaars vyf minute van my af woon en sy help my baie wanneer ek iemand nodig het om na die kinders te kyk as ek optree. Glynn staan ook oor naweke vir my in en soms beteken dit dat ons mekaar nie so baie sien nie, maar dit is ʼn groot voorreg dat ek as ma ook kan uitgaan en my droom uitleef.”

Sy lag wanneer sy sê hoe voller ʼn huis is, hoe lekkerder is dit. “My man wil baie graag nog ʼn kind hê, maar hy het sy hart op ʼn dogtertjie en ons het duidelik nog nie daardie resep vervolmaak nie, so ek wil eers nog ʼn bietjie daaroor dink!”

Een van Andriëtte se grootste drome vir 2022 is om haar eie liedjie te skryf. “Ek is baie lief vir skryf en skryf graag gedigte. Ek hoop om ʼn diep ballade te skryf wat iemand vir my kan toonset. Dalk sal dit selfs ʼn Engelse liedjie wees wat weer ʼn slag dié kant van my kan wys wat mense van Idols onthou.”

“Mis jou meer” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Hou Andriëtte van witwyn of rooiwyn, of tuisbly of uitgaan? Luister bo-aan die berig hoe sy Maroela Media se vinnige vrae beantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Baie dankie vir die insetsel oor die dame. Ek dink ek is seker een van haar grootste aanhangers. Afgesien van haar baie mooi stem dink ek sy is ook ‘n baie aangename mens. Haar man kan baie bevoorreg wees om so aantreklike talentvolle wederhelf te hê. Ek hoop sy sal nog lank aanhou en haar God gegewe talent met ons deel. Werklik ‘n besonderse stem en hoop sy sal voortgaan. Sterkte en baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.