Animasie-musiekvideo vir Lucinda se ‘Weerloos’ bekoor

‘n Skermgreep uit Lucinda se video vir ‘Weerloos’.

Lucinda, die sangeres en kunstenaar wat bekend is as voorsanger van Die Melktert Kommissie, het pas ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Weerloos” uitgereik.

Dit is egter nie net die musiek en lirieke wat aanhangers gaande het nie, maar ook die musiekvideo wat ʼn prettige animasiestorie vertel wat Lucinda self gemaak en redigeer het.

Lucinda het die lirieke en melodie vir “Weerloos” geskryf nadat musikant en akteur Bouwer Bosch vir haar die musiek gestuur het. Die liedjie is by Bosch se ateljee opgeneem en Peach van Pletzen het die vermenging en finale klank behartig.

Volgens Lucinda is dit altyd vir haar spesiaal om saam met Bosch te werk. “Ons het verlede jaar ʼn kortspeelplaat (EP) saam uitgereik met die titel Waar die see die kus omhels. Ek het al vreeslik baie by hom geleer,” sê sy.

Lucinda. (Foto: Henry Engelbrecht)

“Weerloos” gaan oor hoe moeilik dit kan wees vir mense om mekaar te leer ken. “In verhoudings, en veral ook ons verhouding met onsself. Dit gaan oor hoe mens treetjie vir treetjie iemand toelaat om dieper te delf in wie jy is, en dat dit ʼn weerlose proses is om ʼn persoon toe te laat om jou te leer ken.”

Sy vertel dat sy graag ʼn musiekvideo wou maak wat mense laat glimlag. “Ek wil hê mense moet vir ʼn paar minute in ʼn sprokie kan wegraak en dat dit hulle hopelik met ʼn lekker gevoel sal agterlaat.”

Die storielyn handel oor twee karaktertjies wat mekaar met ʼn flitslig verken, asof hul dieper kyk na die binneste landskappe. “Hulle skyn ʼn lig op die geliefde en sien die mooiste dinge raak. Die koor is maar net ʼn klompie verskillende karakters wat mens sou teëkom in jou daaglikse lewe. Almal is anders en almal het ʼn plek op ons aarde.”

Lucinda vertel sy het eers die poppies van papier gemaak en het ʼn tuisateljee gebou deur ʼn koffietafel bo-op ʼn stoeptafel te plaas, ʼn groot lig onder die koffie tafel vas te plak en ʼn tipe van ’n verhoog te bou waarop die storie kon af speel.

‘n Skermgreep uit Lucinda se video vir ‘Weerloos’.

“Ek het alles met ʼn app op my selfoon geskiet. Die video bestaan uit 1 601 foto’s. Met elke foto het ek die poppies met ʼn paar millimeter rondgeskuif en as dit dan aaneen gespeel word, lyk dit soos ʼn gladde beweging. Dit was baie pret om hieraan te werk en ek sal so iets sommer gou weer doen,” sê sy.

Lucinda het ʼn video op Instagram gedeel waar sy die musiekvideo se proses in besonderhede verduidelik. “Ek wou vir ‘Weerloos’ ʼn animasievideo maak, want ek dink in hierdie tyd waarin ons nou is, is alles bietjie donker en ernstig en mense voel nie goed nie. Ek het gedink dis die perfekte tyd om iets kleurvol en wat mense gaan laat glimlag te maak.”

Sy vertel sy kon sowat vier karakters per dag skep. “Ek is so ʼn perfeksionis – as die neus nie reg is nie, het ek dit oor gedoen, as die kop te groot is, het ek dit oor gedoen – maar vir my moet hierdie tipe goed ook joy spark in jouself; so enige iets wat ek maak, wil ek self eers genot uit put en veral nou, tydens die lockdown, was dit vir my belangrik.”

“Weerloos” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.