Anlia sing oor plaaslewe op Top-20

Anlia Star.

Die voormalige Getroud met rugby-aktrise en sangeres Anlia van Rensburg, nou bekend as Anlia Star, het pas haar debuutenkelsnit getiteld “Plaaslewe” uitgereik.

Anlia, wat vroeër vanjaar verloof geraak het aan die rugbyspeler Eben Etzebeth, vorm deel van die musikant Appel (Christoph Kotzé) se nuwe platemaatskappy. “Plaaslewe” is ook deur Appel geskryf.

Dié liedjie maak vandeesweek sy toetrede tot die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 13de plek.

Wikus Botma, bekend vir sy liedjies “Brannewynlippe” en “Proe soos nog”, se nuwe liedjie, “My nannas”, verskyn ook nou in die Top-20 in die 20ste plek.

Botma is onlangs getroud met Michaela Mallett Botma, ʼn veranderingsafrigter. Die pasgetroudes het ʼn dansie op die maat van “My nannas” gechoreografeer en moedig luisteraars aan om dieselfde dansie te doen en ʼn video daarvan op sosiale media te plaas.

Barto se “H2Oë” bly in die eerste plek, met Eloff se “Witblits” in die tweede plek en Irene-Louise van Wyk se “Tekkies brand” in die derde plek.

  1. Barto – “H2Oë”
  2. Eloff – “Witblits”
  3. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  4. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  5. Bernice West – “Lyfie”
  6. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  7. Riaan Benade & Jay – “Rowwe bliksem”
  8. Prop – “Kwaaitjie”
  9. Riaan Benadé & Ricus Nel – “Haai haai”
  10. Eloff – “Johnnie Blou”
  11. Karlien van Jaarsveld – “Ophou”
  12. Brendan Peyper – “Insomnia”
  13. Anlia Star – “Plaaslewe”
  14. Riaan Benadé – “Spontaan”
  15. Tasché – “Sal jy vir my wag”
  16. Leah – “Ek like jou”
  17. Elandré – “Lieflik”
  18. Jan Jan Jan – “Skattie”
  19. Francois van Coke – “Nie alleen nie”
  20. Wikus Botma – “My nannas”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings:

Wikus Botma.

Anlia Star vertel sy en Appel het lank gesels oor haar ervarings en waar sy grootgeword het om die regte onderwerp vir haar debuutenkelsnit te kry.

Die snit “Plaaslewe” is Vrydag uitgereik en pryk reeds in die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Appel het toe die idee gekry om te skryf oor die plaaslewe en ek kan daarby aanklank vind, want ek het in die Vrystaat grootgeword. My ouma en oupa het ook op die plaas gewoon. Wat vir my belangrik is van die liedjie is om die klein dingetjies in die lewe vas te vang, die klein oomblikke te koester,” sê sy.

“Die lewe is so gejaag en ʼn mens moet soms net stil staan, rondom jou kyk en alles inneem. Dit is ʼn lekker kuierliedjie oor oomblikke op die plaas wat ʼn mens nie in die stad kan beleef nie.”

Ander liedjies wat die afgelope week uitgereik is, is Wikus Botma se “My nannas”, Legkaart se “Terug in tyd”, Noa Milan se “Veg, val, opstaan”, Ruth se “God gaan voor ons uit”, C-Storm se “Skoenlapper”, Jaid River se “Duisend jaar van nou”, Ampie en Matthew John Duncan se “Standbeeld”, Jan Jan Jan se “Skattie”, Sunel se “Moenie” en Pieter Koen se “Hier gaat ons alweer”.

&nd=1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.